Quinn Lee is ons Kersbaba-wenner vir 2020. Foto's:

Quinn Lee is ons Kersbaba-wenner vir 2020. Foto’s: Blou Bessie Fotografie

Die kleine Quinn Lee is aangewys as die wenner van die Komani-Karoo Express se voorblad-babakompetisie.

Dié mooie knapie met die hartedief–blou ogies slaap al deur vandat hy vier-en-’n-half-maande oud is. Mamma Stephnie Muller werk by ’n matonderneming en pappa George Lee is ’n paneelklopper.

Stephnie sê Quinn het hierdie vreemde pandemiejaar vir hulle ekstra spesiaal kom maak. “Ná die uitbreek van COVID-19 was daar so baie hartseer en onsekerheid oor hoe dinge gaan wees en waar alles gaan eindig. Maar hierdie blou-oog van ons het elke liewe vraagteken en moedeloosheid vir ons in ’n glimlag verander.

Quinn Lee is our Christmas Baby winner 2020. Photo

Quinn Lee is our Christmas Baby winner 2020. Photo

Quinn Lee is our Christmas Baby winner 2020. Photo

“Elke keer wanneer ons oë mekaar s’n ontmoet, weet ek alles sal oukei wees. Hy is sowaar ’n sonstraal en ons dank God elke liewe dag vir hierdie groot geskenk wat Hy ons gegee het!”

Quinn is versot op jogurt, groente en pasta met soetmielie-en-kaassous.

“Hy geniet ook enige tipe vleis en nes sy pa eet hy enigiets wat met aartappel gemaak word,” sê Stephnie.

“Daar is nie regtig iets wat hy nie eet nie, maar ’n ertjie se tekstuur sit hom nog so bietjie af.”

Is Quinn regtig so ’n vriendelike knaap of was dit sommer oëverblindery vir die kamera? Stephnie lag en sê, “O, my genade! Quinn is die allervriendelikste baba. Hy het soveel liefde in sy hartjie en is ’n spontane klein mensie. Ek sê dit sowaar nie net omdat hy my kind is nie.”

Volgens Stephnie is Quinn mal oor ’n bal, maar sy sagte hasie is sy gunsteling troos-speelding, veral wanneer hy moeg is.

“Hy geniet ook sy sensoriese boekie. Quinn is baie lief vir ons en het ’n besondere band met sy pappa. As hulle eers speel, kan hoor en sien vergaan.

“Hy is gelukkig om meer as ’n handjievol spesiale mense in sy lewe te hê. Veral met sy twee oupas en oumas wat ook in Komani woon.”

Stephnie Muller en George Lee saam met Quinn Lee. Foto: Blou Bessie Fotografie
Quinn Lee is our Christmas Baby winner 2020. Photo

Komani-Karoo Express wou weet of dit ’n groot uitdaging is om baba groot te maak in die COVID-19 pandemietyd.

“Ek vat als so rustig as wat ek kan … daar is niks wat ’n mens regtig kan doen aan die situasie anders as om die reëls na te kom deur jou hande te was, te ontsmet en masker te dra nie.

“Dan bid ek ook vir my gesin om veilig te wees. Ek vermy dit om Quinn dorp toe te vat en tot dusver is ons almal gelukkig nog gesond.”

Die Mullers beoog om Quinn se eerste Kersfees baie spesiaal te maak, al is hy nog te klein om veel te onthou.

“Ons huis het nog nooit so baie Kersver- sierings gehad nie en daar lê reeds baie ge-skenkies vir Quinn onder die boom. Hy kry onder meer ’n balanseerfietsie, ’n gereedskapskissie en opvoedkundige speelgoed.”

Quinn is in die Queenstown Life Hospitaal gebore en sal op 20 Januarie 2021 sy eerste verjaardag vier. 

Quinn Lee se foto’s is geneem deur Blou Bessie Fotografie.

Blou Bessie Fotografie

Blou Bessie Fotografie was die amptelike fotograaf vir Quinn se fotosessie.

Wanneer jy jou volgende fotosessie beplan, maak seker jy kontak Juliana Steyn van Bloubessie Fotografie. Sy is ’n natuurlike lig fotograaf wat in Komani geleë is.

Bloubessie Fotografie bied die volgende dienste aan:

  • Familie-foto’s
  • Paartjie-fotosessies (couples)
  • Verlowingsfoto’s
  • Foto’s van kinders
  • Swangerskap-fotosessies
  • Pasgebore baba’s
  • Verjaardagpartytjies
  • Enige spesiale geleenthede
Kontak Juliana Steyn by 082 337 2758 of besoek haar Facebook-blad.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article