“Ek hardloop want dit is vir my lekker. Die vryheid om te hardloop en hardloop… met die reuk van Karoobossies om jou, bly my nog altyd by.”
Só sé Rietha Fourie Gaybba, ’n boorling van Hofmeyr wat groot hoogtes met haar atletiekloopbaan bereik.
“My eerste onthou van hardloop is meer as 50 jaar gelede op ’n tweespoor Karoo-grondpad na die sandland onder die koppie.’’
Op skool het Rietha aan atletiek deelgeneem, maar dit was eers na skool wat sy aan padwedlope begin deelneem het.
Haar eerste padwedloop (10km) waaraan sy deelgeneem het was in Gqeberha. Daarna het sy aan verskeie padwedlope oor verskillende afstande (van 10km tot 50km) deelgeneem.
“Ek het selfs die geleentheid gehad om aan ’n marathon in Copenhagen, Denemarke, deel te neem.”
Rietha sê sy was nog nooit laaste nie en het darem so af en toe goed gedoen. Van haar hoogtepunte sluit in: Die naaswenner van die veteraan vroue by die Old Mutual Rustenburg Mountain Race (25km) en in 2017 was sy ook die naaswenner by die Skukuza Castle Lager half-marathon (21km) in haar ouderdomsgroep.
In 2017 het sy vir haar Gauteng-Noord kleure gekwalifiseer (10km). Sy neem steeds deel aan padwedlope, maar gewoonlik nader aan haar huis en sê “na so 20km raak ek nogsteeds verveeld.”
Gedurende die 90s het Rietha gereeld staptogte aangepak en dikwels gewens sy kon eerder die voetpaaie hardloop.
“Trail Running of dan roetehardloop was toe nog nie ’n georganiseerde sportsoort in Suid-Afrika nie. Maar in 2013 het ek aan my eerste trail run, die befaamde Otter van 44km deelgeneem en my kategorie gewen. In 2014 het ek die RETTO (Otter agteruit gespel) gedoen en was die naaswenner in my ouderdomskategorie.”
Tussendeur het sy aan verskeie korter roete-wedlope deelgeneem. In 2017 het Rietha in haar ouderdomskategorie die Spur Gauteng Winter Trail Series gewen en in April/Mei 2022 het sy die Trail 2 Teebus in Steynsburg gewen.
“My hartsbegeerte van lank gelede om in die stowwerige voetpaadjies van die Karoo te hardloop is uiteindelik bewaarheid. Stoksielalleen met my eie gedagtes in die mooi Karoo, die reuk van kakiebos, kouse vol steekgras en klitsgras en die son wat bloedig agter Koffiebus en Teebus sak was ek sielsgelukkig”.
Roete hardloop word ook beskou as ’n meer spirituele aktiwiteit as padwedlope of draf omdat dit in ’n natuurlike kalm omgewing plaasvind.
“Jy kan die natuur met al jou sintuie ervaar en geniet,” sê Rietha.




