DIE Primêre Skool Karel Theron op Middelburg het ’n baie suksesvolle kleure-atletiekbyeenkoms gehou, waartydens Graad R- en RR-leerders vir die eerste keer deelgeneem het.
Die uitblinker seuns-atleet is Divan Lausberg wat as die Victor Ludorum aangewys is vir sy eerste plekke in verspring, hoogspring en gewigstoot. Hy behaal ’n tweede plek in die 800m en derde plekke in die 80m en 100m.
Mienke du Plessis het met haar prestasies vir meisies o.10, die stof in al die ander atlete se oë geskop. Met haar vyf eerste plekke in die 100m, 70m hekkies, verspring, hoogspring asook gewigstoot, het sy lag-lag met die Victrix Ludorum-trofee wegge-draf.
Twee gewigstootrekords het in die slag gebly toe Marco Lausberg die seuns o.10-afstand van 7.94m aange-teken het (vorige rekord 7.80m deur Jayden Flanagan in 2009) en Chris Lessing die seuns o.11-afstand verbeter het na 10.00m (vorige rekord 9,39m deur Gerhard du Plessis in 2014).
’n Nuwe instelling by Karel The-ron is die spoggerige linte wat deur ouers geborg is en aan die eerste drie atlete van elke item oorhandig is.
’n Totaal van 95 Karel Theron-at-lete het deurgedring na die jaarlikse dorpsatletiekbyeenkoms waaraan al die laerskole in Middelburg deelgeneem het. Divan Lausberg behaal daar ’n eerste plek in verspring en tweede plekke in hoogspring en gewigstoot.




