CRADOCK-polisiediens het weer eens bewys dat hulle streng sal optree en nie hulle eie sal beskerm as hulle skuldig bevind word aan kriminele oortredings nie.
’n Kaptein in die polisie se afdeling vir misdaadvoorkoming op Cradock, wat intussen uit die diens ontslaan is, is verlede Woensdag in die landdros-hof op die dorp gevonnis ná hy skuldig bevind is aan twee klagte van diefstal en die besit van gesteelde eiendom.
Vicelo Ysterman is in 2015 in hegtenis geneem oor die besit van gesteelde eiendom en op 23 November verlede jaar skuldig bevind.
Hy is ná ’n dissiplinêre verhoor uit die polisiediens ontslaan.
Landdros Read van Somerset-Oos het Ysterman Woensdag gevonnis tot 18 maande korrektiewe toesig, nege maande huisarres en 200 uur gemeenskapsdiens.
Johan Smit van Middelburg het vir die staat verskyn.



