IN die bitterlike koue van die Karoowinter pak ’n groep stappers tans die tog van Kakamas in die Noord-Kaap tot Port Elizabeth aan, en dít in die geselskap van twee woestynkamele.
Jan Arends, prediker en evangelis, is die leier van dié groep wat óf tuisgaan by weldoeners in dorpe waardeur hulle reis, óf oornag in tente langs die pad.
“Ons stap ’n pad van geloof en God is getrou – Hy sorg vir ons,” sê Arends.
Die stappers is ’n interessante kombinasie wat bestaan uit Arends en sy dogter Sylvie, Melvin Mokgalakgadi, ook ’n evangelis, en twee jong studente, Mannfred Brussow en Arno Janse van Rensburg.
“Ons leer baie van mense én van God so langs die pad,” vertel Janse van Rensburg optimisties.
En as mens ’n gesprek voer met Arends, is dit maklik om te glo. Dié prediker se sagte stem en oë wat ver kyk, verklap dat die woorde wat hy op die lang tog spreek, wys-heid sal toevoeg tot die lewens van sy jong medestappers.
Die doel van hul lang reis is tweeledig: om geld in te samel vir Bybelverspreiding, en ’n boodskap van hoop te bring na die mense wat hul teëkom op hul pad.
Die vraag kom onvermydelik – hoekom dan kamele?
Arends verduidelik, “Die Vader het jare gelede vir my gesê dat ek ’n boodskap van hoop vir mense moet bring, en toe het Hy my herinner aan Mattheus 19:24-26 waarin Jesus sê hoe moeilik dit is vir ’n kameel om deur die oog van ’n naald te gaan.
“Hy het egter ook vir sy dissipels herinner dat hoewel dit by mense onmoontlik is, alle dinge moontlik is by God. En dít is waarom hierdie kamele, Aziz (17) en Simon (11), ons op ons reis vergesel as sigbare simbool van die groot hoop in Hom wat ons vir alle mense en nasies op ons pad wil bring.”
Die Kameelsafari het die afgelope Dinsdag vanaf Middelburg hul reis voortgesit, en het gehoop om vanaand (Donderdag) in Cradock te oornag. Vandaar doen hulle op hul roete aan by Mortimer, Daggaboers-nek, Bedford, Alicedale, Paterson, Nanaga, Colchester, Uitenhage en uiteindelik Port-Elizabeth.
Belangstellendes wat hulle langs die pad teëkom, is welkom om ’n geselsie aan te knoop.
Boere wat wil help, kan ’n baal lusern of twee bydra (’n bakkie ry saam as ondersteuningsvoertuig) en finansiële bydraes word aangewend vir Bybelverspreiding. Kontak Arends by 082 4795 085.


