ILZE Potgieter van Art&Craft4Kidz op Middelburg kan met trots spog nadat een van die drie jong kunstenaars wat deur haar bekwame en kunstige leiding aan die landwye Santam-kunskompetisie deelgeneem het, se kunswerk gekies is om in die Santam 2019-kalender verewig te word.
Die agtjarige Juan van der Walt het met sy kunswerk gewen en dit gaan in Santam se 2019-kalender verskyn. Juan het ook tydens die Eisteddfod by Aliwal-Noord uitstekend gevaar.
Dit is vir Potgieter asook Juan en sy ouers, SP en Lize van der Walt van die Middelburg/Noupoort-distrik ’n groot prestasie.
Die naam van sy kunswerk is “Selfportret van ’n skrywer”.
Verder het een van Art& Craft4Kidz se senior studente, Dehan van der Walt, ook uitstekend by die Karoo Eisteddfod in Aliwal- Noord gevaar.
Dehan (gr. 8) het die algehele prys vir sy ouderdomsgroep vir twee-dimensionele kuns gewen en het die uitstekende prestasies van onderskeidelik 97% en 96% behaal.
Dehan is die seun van Sarel en René van der Walt (ook in die Middelburg-distrik) en het ’n ongelooflike talent om ’n voorwerp met die vryhand te teken en dit dan te laat lewe kry.



