DIE Laerskool Gill op Somerset-Oos, het onlangs ’n uiters suksesvolle eerste Eisteddfod aangebied.
Daar was 125 inskrywings van die plaaslike skole en hulle kon in drie afdelings deelneem – gedigte, sang en instrumentaal. Die leerders het die blootstelling baie geniet en het met selfvertroue aan hul onderskeie items deelgeneem.
Een van die deelnemers was Jonker Nel van die Laerskool William Oates wat dubbelgoud met sy gedig, Sorry, Spinnekop, verwerf het.
Jonker is nou in gr. 3 en bekend as ’n slim seun wat ook met groot sukses vir sy skool aan die WOW-spelfees deelgeneem en in verdere rondtes deelgeneem het. Voorts lees hy hope tydskrifte, koerante, bib-lioteekboeke en verkies om eerder in Engels te lees.
Miranda Horne, sy klasonderwyseres, sê, “Dis ’n plesier om hom in die klas te hê, want hy is ’n passievolle kind wat ’n uitblinker is in alles wat hy aanpak, soos pas ook by die Eisteddfod bewys is.”




