“SKAPIE is my groot vriend en ek is baie lief vir haar.”
So sê Johann de Beer van Cradock oor sy merino-ooitjie waarmee hy elke dag deur die dorp se strate gaan stap.
Hy vertel dat hy met sy groot vragmotor waarmee hy vervoerwerk doen, wol by ’n boer in die distrik gelaai het, toe Skapie oor sy pad gekom het. Dit was destyds baie droog in die distrik en die lammetjie se ma het nie genoeg melk vir haar gehad nie.
Die boer het nie kans gesien om ’n hanslam groot te maak nie en het aangebied dat Johann die lammetjie huis toe neem.
Skapie is nou ses maande oud en in die natuur sou sy lankal gespeen gewees het, maar nie die dorpskapie nie. Sy drink elke oggend om 07:00 en weer saans om 18:00 ’n yslike bottel melk leeg. “En as die melk bietjie laat is, skop sy sommer ’n groot kabaal oop,” sê Johann.
Dit is juis om die melk te gaan koop wat Skapie elke oggend saam met Johann dorp toe stap. Sy en die Snauzerhondjie, Seuntjie, wat ook altyd saam gestap het, was baie groot vriende en het gereeld saam geslaap. Die hondjie is ongelukkig onlangs dood en Johann was bekommerd dat Skapie verlore sou voel, maar hy sê sy het darem goed aangepas.
Skapie volg ’n gesonde dieet van pille en lusern en wei ook graag op die grasperk by die huis, maar as sy so stilletjies geleentheid kry, smul sy tog te lekker aan haar Ounooi se roosbome.
Skapie was onlangs plaas toe om geskeer te word. Johann sê sy het absoluut niks met die ander skape te doen gehad nie en het, die oomblik wat die skeerdery klaar was, reguit bakkie toe gehardloop en op die bak gespring.
Die band tussen Johann en Skapie is baie sterk. Toe sy klein was het sy selfs by hom op die bed geslaap. Sy is ook versot op klein kaaskoekies (mini cheddars) en Johann sorg dat daar altyd ’n pakkie in sy broeksak is.




