DIE Verenigende Gereformeerde Kerk in Suider Afrika – Midros (VGKSA-Midros) se Christelike Jeugbrigade Jaarfees vind van 8 tot 10 Maart op Middelburg plaas.
Ongeveer 150 offisiere, onder-offisiere en kadette van die Brigade Kompanies van Graaff-Reinet, Jansenville, Aberdeen en Steytlerville sal aan die jaarfees deelneem.
Vrydagaand, 8 Maart word Mnr. en Mej. Jeugbrigade gekies. Saterdagoggend sal braai-vleis deur die Christelike Manne Bediening in die Burgemeesterstuin in Middelburg teen R50 per bord verkoop word.
Alle kompanies met hul orkeste tree voor die stadsaal aan om dan, onder begeleiding van die Suid-Afrikaanse Polisiediens en verkeersafde-ling, deur die besigheidsgebied te marsjeer, waarna hulle weer na die Burgemeesterstuin beweeg waar die orkeste sal optree. Toegang tot die verrigtinge is gratis. Om 12:00 sal die kompanies na Duikweg in Midros beweeg.
Om 14:00 sal daar ’n parade op die Midros sportgronde wees, waar die verskillende kompanies sal dril en die orkeste sal optree. Toegang is R5 vir kinders, R10 volwassenes en R2 per voertuig. Saterdagaand om 19:00 vind ’n konsert in die VGKSA kerksaal plaas.
Die naweek se verrigtinge word Sondagoggend om 10:00 afgesluit met ’n erediens wat deur Luitenant Jana Minnaar en die ander kompanies se kapelane gelei word.
Vir enige navrae, kontak die Brigade Stafkaptein, DA Williams by 083 3557 320.


