DIE Christelike Jeugbrigade van die VGKSA-Midros het hul Jaarfees vanaf 4 tot 10 Maart gehou.
Takke van Graaff-Reinet, Jansenville, Steytlerville en Aberdeen is genooi.
Jeugbrigade-lede het Saterdagoggend vanaf die stadsaal deur ’n paar strate en weer terug na die stadsaal marsjeer waar die orkeste musiek gemaak het.
Die Christelike Mannebediening het braaivleis verkoop.
Pieter Meyer en Zoë Adams is ook onderskeidelik as Mnr. en Mej. Jeugbrigade 2019 aangewys.
Die brigade het later na Rivierweg in Midros beweeg en tot by die VGKSA kerk marsjeer.
Later die middag is toeskouers by die Midros sportgronde met dril-oefeninge en musiek vermaak. Die gesamentlike orkes het die dag met ’n konsert afgesluit.
Op Sondagoggend is ’n parade voor Big Eleven gehou met die brigades wat tot by die kerk marsjeer het.
Ná die intog-lied by die erediens het al die offisiere die kerk ingegaan en elkeen is aan die gemeente voorgestel.
’n Kersseremonie het gevolg waar ses kadette twee kerse aangesteek het vir die afgestorwe offisiere en kadette.
Ná die erediens het hulle deur twee strate beweeg om middagete te gaan geniet. Lede het terug na hul tuisdorpe vertrek nadat Kommandant Mercha Hendricks hulle toegespreek het.
Die volgende Jaarfees sal in Graaff-Reinet vanaf 24 tot 26 Mei plaasvind.


