SKRYWER-regisseur, Jahmil X.T. Qubeka, wat in die stofstrate van Somerset-Oos groot geword het, se jongste en vierde rolprent, Sew the Winter to my Skin, waarvan dele in die distrik op Phillip Erasmus se plaas geskiet is, is pas in Kaapstad en Johannesburg bekend gestel.
In 2018 is hierdie film vir die eerste keer by die Toronto internasionale filmfees in Kanada bekend gestel. Dit was Quebeka se tweede film.
Sy eerste film Of Good Report was vir ’n wyle deur die Suid-Afrikaanse Film en Publikasieraad verban en ook aan die Durbanse Internasionale Filmfees onttrek. As gevolg hiervan is Qubeka bekend as ’n “kontroversiële filmmaker”, iets waarmee hy nie saamstem nie.
“Ek steur my nie aan allerhande gevolgtrekkings wat van my werk gemaak word nie; ek beskou myself as ’n kunstenaar wat my gehoor vermaak.”
Met hierdie film kry hy egter ’n veer in die hoed weens die feit dat die National Film and Video Foundation as gevolmagtigde van die Departement van Kuns en Kultuur, hierdie rolprent as Suid-Afrika se amptelike inskrywing vir die 91ste jaarlikse Oscars in die afdeling Best Foreign Language Film benoem het.
Die verhaal handel oor die legendariese John Kepe (gespeel deur Ezra Mabengeza) wat vir jare lank die boere se vee gesteel en selfs by woonhuise ingebreek het om kos te steel.
Hy het egter altyd daarin geslaag om sy ontstoke vervolgers te kon ontglip en in sy grot in die Bosberg, Somerset-Oos te gaan wegkruip.
Wat die film dadelik onderskei, is dat Qubeka dit skoei op die genre van die Wilde Weste en dit suksesvol saamsnoer met mitologie en die politiek van die apartheidsera in die vyftigerjare.
Kepe word ook uitgebeeld as ’n soort volksheld, soos Robin Hood, wat sy gesteelde goedere met die armes in sy gemeenskap deel en selfs ’n meisie het – “Golden Eyes” gespeel deur Kandyse McClure.
Die storie word geheel en al deur ’n joernalis vertel en daar is geen dialoog nie. Volgens een kritikus is een van die sterkste kwaliteite van die film die tikkie ondeundheid wat soos ’n draad deur die verhaal gevleg is. Hier sorg Kepe se mislukte pogings vir goeie lagwaarde.
John Kepe was in sy lewe bekend as ’n ongure vent, maar in die apartheidsera in SA word sy wandade as dade van weerstand voorgestel. In hierdie film is hy sommige se held en andere se misdadiger.



