’n SAAL vol besorgde inwoners en sakelui het Dinsdagmiddag in KwaNonzame vergader om vrae te stel aan Inxuba Yethemba-munisipaliteit rakende die naderende kragonderbrekings wat Eskom vanaf volgende week in werking wil stel. Die vergadering is deur die munisipaliteit self belê.

Die vergadering is toegespreek deur verskeie munisipale amptenare, waaronder Lucky Mulaudzi, die hoof finansiële beampte, en munisipale bestuurder Xolela Msweli.

Volgens Msweli het die munisipaliteit tussen Julie en September vanjaar R37.4 miljoen se elektrisiteit verbruik, maar slegs R22 miljoen ingevorder, wat die munisipaliteit met ’n tekort van R11.4 miljoen laat.

Die bestuurder van ’n groot kettinghandelsgroep in Middelburg wou weet of die munisipaliteit al klarigheid kon kry oor die voorgenome beurtkrag-ure. “Ons het nagenoeg 100 werknemers. Ons moet deeglik beplan en voorberei indien daar beurtkrag gaan wees, want ons koue produkte soos vleis en vis sal nie hou as die beurtkrag onbepaald voortduur nie.”

Sibongile Masawe, portefeulje-hoof van munisipale finansies, kon die inwoners en sakelui nie die versekering gee dat beurtkrag nié sal plaasvind nie, maar het wel verseker “ons werk dag en nag aan onderhandelinge om die situasie te probeer beredder”.

Verskeie inwoners het verduidelikings gesoek waarom Eskom nie maandeliks R800 000 se afbetalings van IYM ontvang het nie, soos daar tydens onderhandelings meer as ’n jaar gelede ooreengekom was. Daarbenewens het IYM glo die afgelope 11 maande reeds sewe maal geen betalings op Middelburg se Eskomrekening gemaak nie, terwyl slegs een betaling van die Cradock-rekening glo oorge-slaan is.

Middelburgers het dit tydens die vergadering duidelik gestel dat hulle nie daarvoor te vinde is dat Middelburg Cradock se laste moet dra nie, en het gedreig om direk met Eskom te onderhandel vir elektrisiteitsvoorsiening.

Die munisipaliteit het onderneem om tydens ’n opvolgvergadering, geskeduleer vir eerskomende Sondag, die gemeenskap in te lig oor die uitkoms van onderhandelinge wat vandeesweek sal plaasvind.


Wilna de Klerk
berig dat Msweli hoopvol is dat die saak beredder sal kan word. Hy sê hulle het reeds die provinsie en die distriksmunisipaliteit om hulp genader en is tans ook besig om baie streng teenoor verbruikers met uitstaande elektriese rekeninge op te tree.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article