HUMEURE het die afgelope tien dae hoog geloop oor ’n gebrek aan krag- en watervoorsiening in die hoërliggende dele van Cradock.

Volgens Joan van Heerden, wat uit moedeloosheid naderhand water uit haar visdam moes skep om aan basiese behoeftes te voorsien, was hulle vir nege dae so te sê sonder water in die huis.

“Ons het soggens ’n bietjie water in die krane gehad, maar by die tyd wat my man voor werk klaar gestort was, was die waterdruk so te sê niks. Ons kon nooit ’n toilet spoel nie en as ons Chris Hani-distriksmunisipaliteit (CHDM) gebel het om ’n klagte te lê, het hulle belowe hulle sal ondersoek instel, wat natuurlik nooit gebeur het nie,” het die radelose stafverpleegster vertel.

“Om alles te kroon het Inxuba Yethemba-munisipaliteit (IYM) enige tyd, sonder enige waarskuwing, ons krag afgesit en dan sit jy sonder krag en water,” het sy bygevoeg.

Inwoners van die dorp het sosiale media laat gons oor klagtes oor hierdie swak diens. ’n Vrou met gestremde kinders kon vir dae lank nie haar kinders bad nie, en ys- en vrieskaste, en geysers het foutief geraak. Baie inwoners moes kos, wat ten duurste aangekoop is, weggooi.

Van Heerden het gesê dat hulle uit moedeloosheid ’n opgaartenk moes koop, waarvoor hulle nie begroot het nie, om die bietjie water wat deurkom op te vang.

Die laaste twee weke was buitengewoon warm in Cradock, met temperature wat tot 41° C en 42° C gestyg het. Bo en behalwe lugreëlaars wat nie gewerk het nie, kon die watervoorraad na die reservoir met ’n kapasiteit van vier meter nooit bokant een meter styg nie. Dit is hopeloos te min vir ’n dorp met ’n inwonertal soos dié van Cradock.

’n Ander groot bekommernis is die voortdurende rioolstortings in die Groot Visrivier. Op een stadium was die hele B-rugbyveld by die sportgronde ’n see van rioolreste. Sekere stortings is onder groot druk van die gemeenskap deur CHDM skoongemaak, maar daar is ten minste nog vier groot stortings wat instroom in die rivier en stroomaf vloei na waar melk en groenteboere die water moet gebruik.

Om alles te kroon was daar die afgelope naweek ook probleme met kontantkragverkope vir elektrisiteit.

Xolela Msweli, munisipale bestuurder by IYM, het Vrydag bevestig dat die kragonderbrekings wat veroorsaak was deur ’n opgradering van die stelsel, nou iets van die verlede is. Hy het gesê die werk is nou voltooi en behoort nie weer probleme te veroorsaak nie.

CHDM het op 1 Julie 2014 watervoorsiening en riooldienste by IYM oorgeneem en sedertdien is die hele stelsel in volslae chaos. Onvoltooide rekeninge, rekeninge met verkeerde adresse, absurde bedrae en aan mense wat die dorp al tot tien jaar gelede verlaat het, of oorlede is, word nou al vir meer as vier jaar aan inwoners van die dorp gelewer.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article