INWONERS van Michausdal, wat keelvol is vir die gebrek aan elektriese toevoer, het verlede week tot protesaksie oorgegaan om hul griewe te lig.
Volgens kaptein Lariaan Jonker, poli-siewoordvoerder van Cradock, het ’n vergadering tussen Michausdal en Hillside se inwoners en die Inxuba Yethemba-munisipaliteit (IYM) in gewelddadige oproer geëindig omdat die gemeenskap ontevrede was dat hul klagtes oor elektriese probleme nie gepriotiseer was nie.
Sy sê laat verlede Donderdagmiddag moes die R61 na Tarkastad en N10 na Port Elizabeth gesluit word, terwyl die polisie en verkeersbeamptes hul bes gedoen het om orde te herstel.
Volgens Jonker het die munisipaliteit Vrydag alles in hul vermoë gedoen om elektrisiteitsvoorsiening na Michausdal en Hillside te herstel. Teen 18:30 Vrydagaand kon Jonker bevestig dat alle paaie na en van Cradock oop was vir verkeer.
’n Inwoner van Michausdal, wat om veiligheidsredes nie haar naam genoem wil hê nie, het vertel dat sommige strate in Michausdal ook onder klippe deurgeloop het en dat al die klippe steeds in strate lê en verkeer bemoeilik. Stadsraadslede is ook in hul huise gedreig.
“Ongelukkig gebruik boosdoeners ook sulke geleenthede om kwaad te doen. Daar word beweer dat daar by ’n winkel ingebreek is en ook dat ’n groot trok op die Tarkastadpad voorgekeer en die drywer gedreig en beroof is,” het sy gesê.
Sy het bevestig dat al die mense van Michausdal en Hillside voor 00:00 Vrydag-aand ligte gehad het.
Volgens Xolela Msweli, munisipale bestuurder, is die kragonderbreking veroorsaak toe ’n kabel in die gebied ontplof het. Hy sê hulle het Donderdag ’n gemeenskapsvergadering vir die inwoners van Michausdal en Hillside gehou om die probleem te bespreek.
“Die vergadering het goed verloop, maar net ná die afloop daarvan het buite-staanders ’n klomp jong mense opgesweep en hulle aangemoedig om bande op die N10 te gaan brand. Alhoewel die polisie ingeroep is, kon hulle nie die skare be-dwing nie.
“Probleme het glo aangehou tot laat Donderdagnag en was so erg dat die munisipale elektrisiëns hul werk onder polisie-beskerming moes doen,” het hy gesê.
Volgens Msweli moes al die ligte in Michausdal afgeskakel word om die herstelwerk te doen.


