CRADOCK se dreigende waterprobleme behoort gedurende die eerste week van April iets van die verlede te wees.
’n Kontrak vir die herstelwerk is toegeken aan Yethemba Solutions en volgens hul woordvoerder, André Thompson, wag hy net vir Chris Hani Distriksmunisipaliteit se bestel- nommer waarna daar gesorg gaan word dat die opvangdamme vol is voordat daar in alle erns aan die voor sal begin werk word.
Thompson het gesê as die weer saamspeel sal die werk nie langer as ’n week neem om te voltooi nie.
In tussentyd, terwyl daar gewag word op CHDM om die suksesvolle tendermaatskappy aan te wys, het ’n inwoner van die dorp gehelp om die voor dig te maak sodat water die stoordamme kon bereik.
Jaco Mulder het op advies van ’n bekende boer uit die distrik, die voor met stukke silosakke uitgelê.
“’n Silosak is ’n groot sak wat 150 ton mielies kan hou en geen water deurlaat nie. Dit word gewoonlik gebruik wanneer silo’s vol is. Ons was gelukkig dat GWK vir ons so ’n sak geskenk het,” het Mulder gesê.
Hy en sy werkers het die sak in lengtes opgesny en die watervoor daarmee uitgevoer. Dit is gedoen om voorsorg te tref dat daar nie water uit die voor verlore gaan nie.

