KEELVOL inwoners van Graaff-Reinet beplan ’n vreedsame betoging oor die waterkrisis waaronder dié dorp gebukkend gaan.

Inwoners beoog om Vrydag, 27 September om 12:30 by die Robert Sobukwe-gebou byeen te kom en ook ’n petisie te teken wat die gemeenskap se hulpkreet na die parlement sal neem. Dít volg nadat desperate inwoners verlede week begin het om dreinwater te skep vir huishoudelike gebruik.

Groot dele van die dorp het al sedert Dinsdag, 10 September, geen water nie. Die waterskeppery by ’n oop drein tussen Asherville en Geluksdal gaan met ’n gestoeiery gepaard, hoewel die brandweer opgedaag en inwoners gemaan het dat dié water nie geskik is vir menslike gebruik nie. Dit blyk dat die munisipale watertrok wel dele van Kroonvale bedien, maar nie so ver as Geluksdal en Asherville ry nie.

Volgens Corene Conradie van die Graaff- Reinet Waterkrisisgroep, loop gemoedere hoog, en het dit gevaarlik geraak vir vrywilligers om water by knelpunte te besorg.

“Die mense baklei vir water. Weerlose kinders word uit die pad gestamp deur volwassenes. Oumense is aan hul eie genade oorgelaat en ’n menigte behoeftige gesinne kan eenvoudig nie gesuiwerde drinkwater bekostig nie.”

Die Graaff-Reinet Waterkrisisgroep is gefrustreerd met die BNLM. “Ons het maande gelede ’n vergadering met BNLM gehad, maar daar het min munisipale amptenare opgedaag,” sê Conradie. “Die doel was om maniere te vind waarop ons met die munisipaliteit kon hande vat ten einde die waterkrisis te verlig, maar soos met alle vergaderings wat hulle hou, het dit net by mooipraatjies gebly.”

Conradie is van mening dat daar na regte nie ’n waterkrisis hoef te wees nie. “Al is ons dam leeg, is daar hulp vanuit vele oorde. Verskeie boere en inwoners met boorgate in Adendorp het die munisipaliteit gekontak om water aan te bied, maar die munisipaliteit hou vol dat daar nie geld is vir brandstof of om watertrokwerkers te betaal nie. Die dam wás al in die verlede gedurende droogtes leeg, maar daar was nog nooit ’n krisis met water nie. Hierdie is veel eerder ’n munisipale krisis, want munisipale bestuur sit handjies gevou terwyl inwoners die basiese mensereg tot skoon water ontsê word,” sê Conradie.

Mid-Karoo Express verneem van ’n Graaff-Reinet inwoner dat die hek na die boorgatveld, die dorp se enigste waterbronne, reeds sedert 2017 oopstaan. Die inwoner sê ook met sy laaste besoek aan die damveld was daar boorgate wat onbedek was.

“Dit beteken die dorp se enigste waterbronne staan oop vir enige persoon om te urineer daarin, klippe in te gooi, of selfs gif. Die gesondheidsgevaar wat so iets vir ’n hele dorp inhou, kan nie onderskat word nie,” het die inwoner gesê.

  • Die Graaff-Reinet Waterkrisisgroep het versoek dat besoekers aan die dorp water of leë houers saambring. Kontak Corene by 079 226 6916.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article