Johann Rupert oorhandig ’n titelakte aan Catherine Jantjies van Aberdeen, terwyl Gaynor Rupert en burgemeester Deon de Vos toekyk. Foto:ELSABÉ PIENAAR

NAGENOEG 70 inwoners van Aberdeen het op Vrydag, 16 November die wettige titelaktes van hul eiendomme ontvang.

Dít was die resultaat van ’n delikate, uitgerekte proses onderhandelinge met die Beyers Naudé-munisipaliteit wat reeds in 2016 deur die Khaya Lam-grondhervormingsprojek van stapel gestuur is.

Leon Louw, uitvoerende direkteur van die Vryemarkstigting wat die landwye Khaya Lam-projek reeds in 2010 geloods het, het tydens die oorhandigingseremonie verduidelik waarom dié projek hom persoonlik na aan die hart lê. “Tydens die apartheidsjare is swartmense nie toegelaat om grond te besit nie. Ná apartheid het heelwat mense HOP-huise ontvang, maar die wet het steeds bepaal dat hulle minstens agt jaar lank daar moes bly, en indien nie, is die eiendom teruggeneem. Dít het beteken dat mense nie kon wegtrek agter beter werksgeleenthede aan nie, omdat hulle nie dié eiendomme wettig kon verkoop en hul dan elders hervestig nie. Met ander woorde, 25 jaar ná apartheid word daar steeds aan swartmense voorgeskryf wáár hulle mag bly,” het Louw gesê.

Volgens Louw het die Khaya Lam-projek dit ten doel om hierdie “dooie kapitaal” waarop mense sit, maar wat hulle nie wettig van die hand kan sit nie, te resussiteer tot lewende kapitaal, wat ’n drastiese positiewe invloed op die land se ekonomie kan hê.

“Die Vryemarkstigting dryf die Khaya Lam-projek omdat dit mense nie net ekonomies bemagtig nie, maar ook met waardigheid, sekuriteit en ’n nalatenskap,” het Louw bygevoeg.

Louw, sowel as burgemeester Deon de Vos, het hul dank uitgespreek teenoor Khaya Lam se projekbestuurder, Perry Feldman en sy vrou Veronica, wat heelwat van die voetwerk gedoen het, en met groot geduld en toewyding die proses van onderhandelinge deurgesien het. Op sy beurt het Feldman gesê dat die onderhandelinge slegs ’n sukses was omdat die Rupert-familie (wat persoonlik noue verbintenisse met Graaff-Reinet en Aberdeen het) die nodige fondse beskikbaar gestel het én hulle die vryheid gegun het om geen steen onaangeraak te laat om die proses deur te sien nie.“Vanweë plaaslike owerhede se finansiële beperkinge en gebrek aan hulpbronne, sou hierdie inwoners nooit in hul leeftyd die eienaar van titelaktes kon word as dit nie was vir donateurs soos die Ruperts nie.

Ons moet ook die munisipaliteit bedank vir hul volgehoue vertroue, samewerking en bereidwilligheid om die eienaarsreg van die grond beskikbaar te stel.”

Dit was ’n ooglopend emosionele dag vir baie van die Aberdeen-inwoners, wat per bus aangery is na die SA Toerismekollege vir die oorhandigingseremonie.

Johann en Gaynor Rupert het die titelaktes oorhandig en blad geskud met die inwoners, maar is sommer ’n hele paar keer met groot vrymoedigheid omhels deur bewoë, bejaarde inwoners.

“Dit ís soos Leon Louw vroeër vandag gesê het,” het Rupert die gehoor toegespreek, “Julle is nie ‘begunstigdes’ nie. Ons doen julle nie ’n ‘guns’ nie. Julle is eienaars, en ons het bloot die proses gefasiliteer om aan julle te gee dít wat julle lankal toegekom het.”

Feldman het Mid-Karoo Express meegedeel dat die plaaslike Khaya Lam-projek voortduur, en daar word gehoop dat hulle in die nabye toekoms ook titelaktes aan inwoners van Graaff-Reinet en Nieu-Bethesda sal kan oorhandig.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article