IN reaksie op ’n wenk vanuit die gemeenskap het raadslid Robbie Venske van Chris Hani-distriksmunisipaliteit (CHDM) die afgelope naweek gaan ondersoek instel na toestande by Middelburg se suiweringswerke.
Dit blyk dat dié aanleg, wat in die laat 1980’s opgerig is, teen ’n ontstellende tempo agteruitgaan weens algehele gebrek aan onderhoud.
Soos met watervoorsiening, is sanitasie ook die verantwoordelikheid van CHDM.
Die suiweringswerke ontvang alle rou riool vanuit Middelburg, KwaNonzame, Midros en Lusaka, en ’n komplekse stelsel damme is veronderstel om uiteindelik slegs skoon water terug te laat in die loop van die Brakrivier.
Die huidige toedrag van sake is egter ver van ideaal. Twee oksidasiepompe en twee biofilterpompe vorm die hart van dié aanleg, maar biofilter nommer 1 is reeds nagenoeg vier jaar buite werking, terwyl pleidooie vir herstelwerk op dowe ore van CHDM-amptenare val.
“Die verval is skrikwekkend,” het Venske opgemerk. Al die grensdrade is afge-steel, en die pompkamer staan wawyd oop nadat vandale die een deur verbrand en die ander een gesteel het. Nie al die slikdamme wat essensieel tot die sisteem is, kan gebruik word nie, want van die pype wat dit met die res van die damme verbind, is verstop, en CHDM verseg om drukspuite uit Cradock te stuur om dié blokkasies te kom verwyder.”
Die hele suiweringsaanleg word beman deur slegs drie arbeiders wat lang skofte werk. Rou vastestowwe word op middel- eeuse wyse en teen ’n slakkepas met kruiwa en graaf na ’n sliksloot verplaas, maar be-skermende kleredrag is slegs ’n vae herinnering uit vervloë dae.
“Werkers moet op eie onkoste krisisse deurbel, maar plaaslike bestuur van CHDM se water- en sanitasie-afdeling verwys alle probleme na hoofkantoor.
Vervolg op bl. 3



