DIS lankal nie meer bejaardes wat ook onder misdadigers deurloop nie.
Op die dorpie Alice, 20 kilometer buite Fort Beaufort, is daar voorverlede Sondag by die geskiedkundige Tremeer-slaghuis ingebreek.
Dit wil nou voorkom asof dit dié slaghuis se eerste inbraak in meer as honderd jaar is.
Die slaghuis het sy deure vir die eerste keer in 1918 geopen en het verlede jaar sy eeufeesvieringe gehou.
Luidens Rudy Turner (32), mede-eienaar van Tremeer-slaghuis op dié dorp, het ’n groep vernuftige inbrekers dié betrokke Sondagaand sinkplate van die gebou se dak verwyder en só toegang tot die perseel verkry.
Hulle het die alarmstelsel en kameras gedeaktiveer. Die alarm het wel by die slaghuis se sekuriteitsmaatskappy afgegaan.
’n Wag het glo ondersoek gaan instel, maar niks op of binne die perseel gewaar nie.
Turner, wat op Fort Beaufort woon, het aan Mid-Karoo Express gesê dat die inbrekers vermoedelik kort ná middernag op dié betrokke aand by die slaghuis ingebreek het.
“Hulle het die brandkluis met hoekslypers oopgemaak en is met die ganse naweek se kontant vort. Hulle het selfs die monitors en kameras gevat en ons het geen videomateriaal waarmee die polisie hulle vas kan trek nie,” het Turner gesê.
Volgens Turner is dit duidelik dat die rowers net op soek na kontant was, want geen vleis of ander produkte is uit die perseel verwyder nie.
Die besigheid was Maandag gesluit terwyl die polisie se forensiese span met hul ondersoek besig was.
Dit raak nou hoogmode vir inbrekers om deur die dak toegang tot wonings of besigheidspersele te verkry.
Op Fort Beaufort is vroeër vanjaar op soortgelyke wyse by drie prominente inwoners se wonings ingebreek.
Instapkluise is met hoekslypers oopgesny en wapens is onder meer gebuit.
Volgens Turner ondersoek die polisie die saak en is niemand nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.


