DAAR heers tans ’n groot toename in inbrake in Hofmeyr en inwoners is bekommerd oor die toedrag van sake.
Dié toename het begin met die inbraak en brand by die Laerskool Hofmeyr en ’n inbraak by OVK. ’n Latere inbraak is by die kliniek gerapporteer waar slegs ’n houer met suigstokkies gesteel is.
By Opperhof van Willie Dorfling was daar ook ’n inbraak aangemeld. Daar is talle elektriese toebehore gesteel.
Ná ’n inbraak by Hofmeyr Suppliers is ’n 2kg pak hoenderstukke as vermis aangemeld. Die Metodiste- kerk het ook deurgeloop en hul nagmaalglasies is gesteel.
Lede van die SAPD is deurgaans beskikbaar en daag op om die sake te hanteer, maar die ongerymdhede duur voort. – TERESA OPPERMAN


