EK het by die #ImStaying Facebook-groep aangesluit in hul early days.

Dit kon nie op ’n beter tyd vir my gekom het nie, want as joernalis het mens nie die luukse om te kan sê “ek kyk nie die nuus nie.”

Dis moeilik om te glo dat so iets positiefs uit Facebook kan kom, waar lafhartige keyboard warriors 24 uur agter rekenaarskerms wegkruip en ander mense slegsê.

Maar soos ’n reënboog het #ImStaying ’n Suid-Afrikaanse toorwoord geword. Net so sterk soos “niekie changes!”

Die stories wat my die meeste raak op #ImStaying is ingestuur deur mense wat al oorsee gebly of baie daarheen gereis het. Hulle almal is dit eens: daar is ’n wonderlike wêreld daar buite, maar Suid-Afrika bly Oos Wes, Tuis Bes!

Ek glo ’n mens kan eintlik enige plek ge-lukkig wees, solank jou kop reg is. Ek meen, kyk nou byvoorbeeld na die Eskimo’s! Wat de hel? Hulle vries heeljaar en kan net seeleeu eet, maar kla hulle? Nee. Kyk hulle lagplooie. Hulle is baaaaaaie happy. Want roomys . . . moet wees, huh?

Hulle lag vir seker nie omdat hulle kan braai nie. Duh! Al wat van die igloo sal oorbly, is immers, wel, ’n nat kol!

Daar is ’n tannie wat #bly vertel sy was al in Swede, waar die woord LAGOM nagestreef word. Dit beteken “net die regte hoeveelheid, nie te veel nie, net genoeg.” Nie te uitspattig nie, nie te luid nie, nie te groot nie, nie te helder nie. Leef stil tuis, verkieslik met ’n boek, en moenie jou bure pla nie.

Só nie Suid-Afrika nie.

Sê vir ’n Xhosa-tannie om liewers LAGOM te praat as sy straat-af stap. Not going to happen. Sê vir ’n Zulu sy dans is te wild (koes vir die assegaai). Sê vir ant Sannie jy soek net ’n LAGOM stukkie koek en LAGOM melk in jou boeretroos (sy gáán jou ma bel en vra of jy dagga rook).

En vra die graad eens in Midros om pouse LAGOM buite te gaan speel. Hulle sal vir jou lag. En nie LAGOM nie. Maagvashou lag.

Suid-Afrikaners is soos my gunsteling Italiaanse musiekterme: espressivo (uitdrukkingsvol), con fuoco (met vuur), en con spirito (met geesdrif).

Ons is bont soos die reënboog. Uitbundig, uitgesproke, rojaal en meelewend.

Anders as op die Tube in Londen, is dit nie weird as jy in ons land vir ’n vreemde mens glimlag of ’n geselsie aanknoop met ’n kassiere nie.

En so saam met die lente sien ek hoe #ImStaying ’n land se mense uit hul doppe laat kruip. Ons kyk met nuwe oë na me- kaar.

Ons sien anderkant die ystergordyn van epidermisselle, want ons maak ons oë toe vir verskille en kyk mekaar na die hart.

#ImStaying, want as dié reënboog se beloftes waar word, wil ek nie die wonderwerk misloop nie.

’n Humanitêre organisasie kom gryp in in die Oos-Kaap. Hulle boor gate vir dors inwoners en diere, sit krane op, ry Jo-Jo’s en emmers aan en herstel pype. Meeste van hulle is Moslems.

Maar hul hidroloog is oom Gideon Water, en as daar geboor gaan word, wag hulle vir hóm. Want doktor Gideon Groenewald, paleontoloog, hidroloog en geoloog, bid voor hy boor. En hulle bid saam. Vir water. Vir leiding. En vir vrede.

Die fliek Avatar beeld dit einlik baie mooi uit: eintlik is ons almal een. Simunye!

My ma se vriendin, Susan, het ’n gratis kaartjie vir aftrede in die Suide van Frankryk. Haar kinders, beesboere van die Vry-staat, besit ’n gastehuis op die Franse Riviera, en wil vreeslik graag hê sy moet daar kom bly, want sy is al lankal anderkant 70. En wie sal nou nie sy laaste dae in die son van die Franse Riviera wil deurbring nie? Susan!

Susan wil nie. “Ek sal gaan kuier, maar ek wil terugkom, want” sê sy, “Ek weet nie hoe om in Frans vir ’n bedpan te vra nie.”

Ek ook nie. That’s why #ImStaying.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article