Huis Van de Graaff se inwoners is op soek na nuwe leesstof.Foto:ELSABÉ PIENAAR


VIR senior burgers is lees nie net ’n aangename tydverdryf nie – dit hou ook baie voordele in.

Juis daarom wil Rita Theron, hoof van Huis Van de Graaff, die publiek versoek om enige storieboeke aan die tehuis te skenk.

“Ons is besig om ’n biblioteek vir die tehuis op te bou, en ons inwoners sien vreeslik uit daarna om dié fasiliteit te kan gebruik,” het Theron gesê.

Boeke kan by die tehuis by Stockenstroomstraat 19 in Graaff-Reinet afgelaai word.

Voordele van lees sluit in:

. Lees verlaag stresvlakke.

. Die brein, net soos die liggaam, benodig oefening. Om te lees stimuleer die brein, en kan Alzheimers en demensie teëwerk.

. Lees verbeter jou geheue, omdat jy ’n storielyn en karakters moet memoriseer. Hierdeur word nie net die korttermyngeheue versterk nie, maar dit het ook ’n stabiliserende effek op die leser se gemoedstemming.

. Lees verbeter analitiese denkvermoëns, veral wanneer jy spanningsverhale lees, vol intrige en misterie. Hierdie oefening help senior burgers om alledaagse probleme die hoof te bied en uitdagings makliker te hanteer.

. Lees verbeter jou algemene bewustheid van wat om jou aangaan. Dit hou as’t ware jou venster op die wêreld oop, en deur bewus te wees van land- en wêreldgebeure en nuwe ontwikkelings op wetenskaplike gebied, voorkom jy dat jou leefwêreld krimp.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article