Huis Karee, Middelburg se geliefde tehuis vir senior burgers, staar ’n ernstige krisis in die gesig.
Irene van der Walt, bestuurder van dié tehuis, sê die aantal inwoners in die tehuis het die afgelope jaar drasties verminder en gevolglik raak dit byna onmoontlik om die tehuis se deure veel langer oop te hou.
“Ons kon weens die COVID-19 inperkings nie ons jaarlikse fondsinsamelings hou nie en dit het ons begroting ernstig geknou,” sê sy.
Die Mighty Men-byeenkoms het gewoonlik sowat R70 000 by die tehuis se bankbalans gevoeg en die Huis Karee basaar het tussen R30 000 en R40 000 ingebring.
“Ons doen alles in ons vermoë om uitgawes te beperk. Maar die maandelikse aankope van COVID-19 beskermende drag neem ’n groot hap van R20 000 uit ons bankrekening.”
Volgens Van der Walt het die tehuis tans ’n tekort van R50 000 per maand.
“Almal kry nou finansieël swaar. Daarom moes ons tot nou toe probeer om self planne te maak, maar ons is nou op ons knieë. Ons huidige personeel-inwonersratio is 1:1 en die werklikheid is dat byna al ons inwoners verswakte bejaardes is.
“Dit beteken dat ’n inwoner twee of selfs drie gesondheidswerkers nodig het om byvoorbeeld in of uit die bed te kom, of om tydens badtyd gehelp te word. Personeelvermindering is dus nie ’n opsie om te oorweeg nie.
“Die gemeenskap van Middelburg is ontsettend goed vir ons en daarvoor is ons uiters dankbaar. Maar skenkings van kos en ander items kan ongelukkig nie salarisse betaal nie,” sê Van der Walt.
Hubert Vorster van Middelburg sê sy ma was jare lank, tot met haar afsterwe, ’n baie gelukkige inwoner van Huis Karee.
“Ek was ook al verskeie kere in Huis Karee vir tydelike versorging en kan net met die grootste lof van die personeel praat.”
’n Bekende sakevrou van Middelburg, Engela Kruger, se ma Mollie Stassen (91) woon die afge-lope twee jaar in Huis Karee.
“Huis Karee vervul ’n uiters belangrike rol in ons gemeenskap. Dit bied ’n veilige hawe vir ons senior burgers om hul laaste jare in hul geliefde dorp en naby familie en vriende te kan deurbring,” sê Kruger.
“Dis werklik húís vir ons bejaardes, waar hulle met passie en deernis hanteer word. Die verpleging is van hoogstaande gehalte en ons oumensies word hier menswaardig behandel tot hulle hul laaste asem uitblaas.”
Kruger, wat onlangs uitgetree het as voorsitter van die Middelburg Forum, het gesê daar moet ’n beroep op die gemeenskap van Middelburg, asook op oud–Middelburgers gedoen word, om ten spyte van die huidige ekonomiese uitdagings, finansiële bydraes aan die tehuis te oorweeg.
“Ek kan my nie ’n Middelburg sonder Huis Karee indink nie. Dit bied ’n heenkome vir die inklusiewe gemeenskap van bejaardes en gestremdes van Middelburg en omliggende dorpe soos Colesberg, Steynsburg en Richmond.”


