EEN van die oudste gemeentes in Somerset-Oos, die Hope Congregational Kerk in Mackaystraat, vier vanjaar hul 175ste bestaansjaar.

Dorothy Edwards, weduwee van ds. John Evans van Cradock, het in Maart 1842 aan die London Missionary Society ’n huis en erf in Pauletstraat nagelaat.

In Desember van dieselfde jaar het Dr Philip, Superintendent van die “London Missionary Society” (LMS), aansoek by die Goewerneur, Sir George Napier, gedoen vir ’n toelae van R20 per jaar vir ’n onderwyser vir kleurlingklasse in Somerset.

In 1844 het ds. Joseph Gill vanaf Manchester, Engeland, op die dorp aangekom en beheer van die kleurlinggemeente oorgeneem. In dieselfde jaar is met bouwerk van die kerk op die leë erf langs die huis begin.

As gevolg van die Groepsgebiedewet is die gemeente na die Francisvale woonbuurt geskuif.

Hier het hulle ’n nuwe kerkgebou op die hoek van Fonteijn- en Mackaystraat opgerig.

Die Hope Congregational Kerk het ’n kleurryke geskiedenis wat deur die meeste van die ander kerke op die dorp asook deur baie van die kulturele en opvoedkundige instellings loop.

Só dra een van die bekendste skole op die dorp, die William Oates Primêre Skool, steeds die naam van die derde predikant wat die kerk gehad het – Eerwaarde William Oates in 1880.

Die gemeente word die afgelope vyf jaar deur Eerwaarde Brunhilda Gallant bedien.

’n Feeskomitee is onder leiding van Anthony Hufkie gestig om ’n feesprogram op te stel. Hulle hoop om binnekort ’n volledige jaarlange feesprogram bekend te maak wat aktiwiteite soos ’n dankseggingsdiens, basaar, debutantebal en ’n jaarfeesnaweek sal insluit. Hulle wil die hele dorp se mense by hul feesvieringe betrek. Hulle beplan ook om ’n feesboek met foto’s en geskiedenis van die kerk, vanjaar die lig te laat sien.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article