Inwoners van Cradock wat nog steier onder die moontlike verandering van hul dorp se naam, het die afgelope week nóg ’n skok ontvang toe daar van die Afbakeningsraad kennis ontvang is van die moontlike toevoeging van Hofmeyr tot die Inxuba Yethemba-munisipaliteit (IYM).
Die kennisgewing van die Afbakeningsraad se vergadering wat glo in die Vuzubuntu-saal gehou is, het min mense bereik en is boonop gedurende werksure gehou. Die inligting oor Hofmeyr se toevoeging tot IYM is op 30 Maart 2022 ontvang, terwyl die sluitingsdatum vir kapsies teen die besluit op 31 Maart 2022 gesluit het.
In ’n brief aan die Afbakeningsraad het die voorsitter van Cradock se Besigheidsforum, Wilhelm Smit, genoem dat IYM ’n finansieël sukkelende munisipaliteit is waarvan die basiese dienste op die rand van ineenstorting is.
“Om nog ’n dorp soos Hofmeyr daarby in te sluit, waarvan die oorgrootte meerderheid inwoners nie vir basiese dienste betaal nie, sal die situasie vererger,” het Smit gesê.
“IYM kan nie meer infrastruktuur, onderhoud en verantwoordelikheid aanvaar nie. Dié munisipaliteit sal eers moet bewys dat hulle genoeg toerusting en voertuie het om meer verantwoordelikheid te aanvaar,” het Smit gesê.
Inwoners van Cradock was baie ontsteld oor die vergroting van Inxuba Yethemba se munisipale gebied. Hulle het op sosiale media hulle sterk menings oor dié onverwagse saak gelug.
Daar is gevra hoekom nog ’n sukkelende dorp by IYM, wat reeds finansieel diep in die knyp is, gevoeg moet word? Ander het gesê hulle wonder “of dit nie gaan oor ’n groter munisipaliteit wat groter salarisse vir die munisipale amptenare beteken nie.”
In ’n afdruk van ’n gedeelte van IYM se raadsvergadering-notule wat op die internet geplaas is, word gemeld dat die munisipale raad van IYM reeds aan die Afbakeningsraad aanbeveel dat dié munisipaliteit Hofmeyr “met ope arms sal ontvang.”
Hofmeyr, ’n klein Karoo-dorp, 64km noord-oos van Cradock, het volgens die 2011 sensus 326 inwoners en die nabygeleë Luxolweni het 3 354 inwoners. Die dorp val tans onder die Enoch Mgijima Munisipaliteit.


