DIE Hofmeyr Rolbalklub het die afgelope naweek vir die 16de keer die Pramkoppen-rolbaluitdaging aangebied en weer ’n volbaan spelers van regoor Suid-Afrika getrek.
Spelers het vanaf Port Elizabeth, Oos-Londen, Kimberley en Johannesburg na Hofmeyr gereis vir hierdie uitdaging. Spelers van omliggende dorpe soos Tarkastad, Molteno, Cradock en Middelburg het ook deelgeneem.
Derick Adams het met die eerste uitdaging in 2003 ’n trofee aan Hofmeyr Rolbalklub geskenk, wat jaarliks aan die wenners van dié uitdaging oorhandig word. Adams, wie deesdae in Johannesburg bly, woon steeds jaarliks die uitdaging saam met sy rolbalspan by.
Die voorsitter van Hofmeyr Rolbalklub, Renel Vermaak, het ook hierdie jaar ‘n suksesvolle veiling georganiseer, wat na afloop van rolbalaksie aangebied is.
‘n Bekwame span vroue, wat nie lede van Hofmeyr Rolbalklub is nie, het in die kombuis reggestaan en etes aangebied onder leiding van klublid Karen Fletcher. Saans het die manne aan die beurt gekom en is ’n biefstuk- sowel as ’n skaapvleisbraai aangebied.
Alle spanne wat deelgeneem het is bederf en ’n skenking van dié Karoo-vleis saamneem huistoe.
Hofmeyr se span van Gerald Fletcher met Piet Roux, Willem Herselman en Naas Vermaak was die 2019 Pramkoppen-rolbaluitdaging se wenners!




