ROSALINE Isobel Smith-Jordaan, oftewel Ouma Rose soos sy alombekend was, het op Saterdag, 23 Maart sag heengegaan ná ’n leeftyd van diens aan die Hofmeyr gemeenskap.
Ouma Rose en haar eggenoot het in 1997 na Hofmeyr verhuis waar hul kom aftree het. Maar aftree was dit toe eintlik glad nie, want sy het voortgegaan met haar beroep as maatskaplike werker waar sy die gemeenskap van Twinsville gedien het op haar sagte en besondere manier vol deernis en begrip.
Haar eggenoot, Fillis Alfred Smith, het aflosposte by talle skole in die omgewing gevul, en het dus ook regdeur sy aftrede voortgegaan om sy beroep met groot toewyding te beoefen.
Nadat hy haar ontval het, het sy voortgegaan, en gereeld inwoners opgelaai met haar motor om hulle na dokters te vervoer, of om hulle by vroue-byeenkomste te bring, asook Sondae kerk toe te neem.
Geeneen het ooit haar tuiste honger verlaat nie, en sy was weliswaar bekend daarvoor dat daar by Ouma Rose altyd ietsie te ete was. Sy het ook as ouderling by die VGK-kerk onbaatsugtige diens in die Hofmeyr- en Twinsville-gemeenskappe gedoen.
By Hofmeyr “Hugs of Hope” was sy ook ’n bekende baken van hoop wat gereeld omgesien het na diegene wat hulp nodig gehad het.
Sy het op gevorderde ouderdom in die huwelik getree met Barend Jordaan, ’n afgetrede boer uit die omgewing, en voortgegaan met haar diens in die gemeenskap, ’n roeping wat sy as Christen tot op die laaste volvoer het.
Sy het op 21 Desember verlede jaar haar 80ste verjaardag gevier, en al vier haar kinders was teenwoordig om dit saam met haar te vier.
Dit was alombekend dat haar gesondheid agteruit gaan, maar sy het eenvoudig net nooit erken dat dit haar kortwiek nie.
Haar hart was altyd gevul met liefde, medelye en sorg vir haar medemens, veral diegene wat minder as syself het. Met ’n sagte woord kon sy enige hartseer temper.
Haar teraardebestelling het op 30 Maart plaasgevind.




