NADAT stigter Katie du Plessis uitgetree het, is die Hofmeyr-museum aan die Hofmeyr VLV oorgegee vir die hantering en bestuur daarvan.
Toe ernstige inbrake, agteruitgang en gebreke in die voormalige gebou die inhoud in gevaar begin stel, moes die plaaslike VLV-tak dringende besluite neem. Die inhoud is toe verskuif na ’n lokaal by die Karoobos Padstal.
Die Karoobos Padstal is onder bestuur van die eienaar, Mariaan Schoeman. Sy is ook die sameroepster van openbare sake by Hofmeyr VLV. Sy het tydens die afgelope vergadering vertel van haar werksaamhede by die mu- seum, en dat sy ook onlangs besoek van die Erfenisstigting ontvang het.
Die Erfenisstigting is ’n instansie wat betrokke is by museums in Suid-Afrika en hulle help om erfenisskatte te bewaar. Hulle be-dien museums met raad, advies en inligting oor erfenisaangeleenthede sodat kinders mu- seums kan besoek en meer kan leer oor die geskiedenis van die land.
“’n Belangrike deel van die werk wat die erfenisstigting doen, is groter sigbaarheid en beter publisiteit en bewusmaking van mu- seums. Ons dokumenteer erfenisterreine sodat ’n omvangryke databasis van inligting opgestel kan word wat vir die toekoms bewaar kan word,” het Riana Mulder van die Erfenisstigting gesê.
“Bestaande komitees, daaronder die VLV – veral in kleiner dorpies – is vir die Erfenisstigting ’n belangrike skakel om toegang tot museums te bekom.”
Die Erfenisstigting se personeel bestaan uit erfenisbewaringspesialiste, soos argeoloë, antropoloë, kultuurhistorici, argivarisse en biblioteekpersoneel.
Omdat VLV’s ook ’n argief bedryf en ’n geskiedkundige instansie is met ’n agtergrond van bewaring, word hul ook genooi om by die Erfenisstigting in te skakel en gebruik te maak van die dienste wat hierdie stigting bied.
Schoeman en haar museumkomitee, wat almal VLV-lede is, gaan poog om die inligting in die plaaslike museum op te dateer, en ook museumstukke duidelik te merk, en deur fondsinsamelings gaan sy poog om verskeie bewaringsaksies te loods sodat Hofmeyr se museum soos dit tans daar uitsien, ’n opgradering ondergaan wat vir die toekoms bewaar sal bly.
Sy loods ook reeds verskeie toerisme-inisiatiewe waar sy wêreldreisigers na die omgewing lok.




