Hofmeyr se strate is nou skoon en vullisvry sedert Ds Marius Barnard beheer geneem het oor die opruiming van rommel in die dorp. foto:TERESA OPPERMAN

WAAR talle klein dorpies in Suid-Afrika vroeër jare skoongehou is deur die onderskeie munisipaliteite wat gesorg het dat daar werkers in diens is om hierdie taak te verrig, is dit lankal nie meer die geval in baie van die dorpe nie.

Stakings deur die munisipale werkers wat daar wel is, het tot gevolg dat swart sakke met vullis nie gereeld verwyder word nie. Mense wat in die sakke krap, skeur dit oop of maak dit nie behoorlik toe nie en so versprei die gemors in strate en sypaadjies.

Mense wat deur Hofmeyr ry sal egter opmerk dat die dorpie skoner is as baie ander klein dorpies.

Dis grootliks te danke aan die werk van Ds. Marius Barnard, die enigste dominee in die omgewing.

Uit frustrasie met die gemors wat ophoop, veral voor besighede waar mense plastieksakke, skille, papier en karton neergooi, het Ds. Marius net meer as ’n jaar gelede besluit om self die moue op te rol om Hofmeyr se strate skoon te hou.

Hy het ’n paar helpers gekry wat ten minste drie maal per week die strate patrolleer en vullis optel.

Dié vullis word in swart sakke gegooi en agterop sy bakkie gelaai en dan aan die buitewyke van die dorp verbrand.

Ds. Marius ontvang klein bedraggies as skenkings vanuit die gemeenskap, waarmee hy die helpers vergoed.

Hofmeyr Hugs of Hope het ook onlangs met behulp van finansiering vanaf Ikhala Trust vir hom twee wieletjies-vullisblikke (“wheelie bins”) gekoop wat sy taak aansienlik vergemaklik.

Sedertdien is twee groepe in die woonbuurte van Twinsville en Eluxolweni gestig, waar groot vullishouers by twee inwoners geplaas is. Inwoners word aangemoedig om hul plastiek, glas, papier en karton te sorteer en daar te gaan afgee.

Inwoners wat self vullissakke volmaak, kan dit ook daar gaan afgee. In dié geval word daar ’n bewys aan die inwoner oorhandig wat een maal per maand vir kos, skryfbehoeftes, klerasie of komberse geruil kan word.

Hofmeyr het egter’n groot probleem met gesorteerde vullis. Alhoewel daar bergplek hiervoor beskikbaar gestel kan word om genoeg op te gaar, ondervind die gemeenskap probleme om ’n instansie te vind wat bereid is om die vrag gesorteerde papier, karton, plastiek en glas op die dorp te kom afhaal vir herwinning.

Besorgde inwoners is tans besig om insette in te win om dié probleem aan te spreek en moontlik selfs ’n inkomste uit rommel vir die dorp te bekom.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article