Swaar reën oor Hofmeyrdorp het skilderagtige tonele tot gevolg gehad met strate wat soos riviere in die ondergaande son vertoon het.foto:HANLIE BARNARD

Credit: SYSTEM

SAGTE deurdringende reën het verlede week en oor die naweek oor Hofmeyr en die distrik uitgesak.

Naas en Renel Vermaak van die plaas Rietfontein Noord-Oos van Hofmeyr het meegedeel dat hulle 47mm oor die naweek gehad het, en dié reën het hoofsaaklik Sondagmiddag uitgesak nadat ’n skouspel van donderwolke van vroeg af reeds opgebou het en talle inwoners na hul kameras laat gryp het.

Geen ernstige skade in die omgewing is aangemeld nie.

By Keith en Craig King van The King’s Acres in die Steynsburg-distrik het daar 50mm uitgesak en by Marius en Sors Hugo van De Poort is 40mm aangeteken.

Marius het berig dat sy damme almal vol is ná die bui reën wat vinnig afgeloop het. Vanuit die Steynsburg-distrik word daar berig dat 20 plaasdamme in die distrik gebreek het, wat natuurlik die vloei in afloopvore en riviere ernstig laat toeneem het.

Daar word vermoed dat daar hoër op in die Doorhoek-omgewing se Bamboesberge redelike swaar neerval was, want die Vlekpoort–rivier het sy walle oorstroom en die Meyburghbrug was ook vir ’n wyle onbegaanbaar.

Dit gebeur nie dikwels nie, en dit is gewoonlik wanneer daar ná ’n goeie reënseisoen ’n swaar neerslag is, wat die rivier in vloed afkom.

Goeie neerslae oor die afgelope paar weke het reeds die kuile in die Vlekpoort opgevul en die veld was ook reeds versadig met Sondagmiddag se neerslag. Geen verdere skade is aangemeld nie, behalwe ’n watervoor wat as gevolg van ’n te vinnige invloei gebreek het.

Die veld en weiding in die noordoostelike dele van Hofmeyr is lowergroen, maar daar is steeds plase wat geen reën ontvang het nie in ander dele van die distrik. Die afgelope naweek se welkome reën was ook vir vele plaaseienaars die eerste ordentlike reën vir die seisoen.

Die reën veroorsaak natuurlik ook dat grondpaaie onbegaanbaar raak, dat urelange kragonderbrekings, wat nie as beurtkrag geklassifiseer kan word nie, ondervind word, en dat telefoondienste nie beskikbaar is nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article