DAAR is onlangs ’n insit op Hofmeyr gehou. Maar wat presies is ’n insit?
Dit is soos ’n outydse inry, maar by die insit daag jy met jou stoel op en jy kom sit buite in die parkeerarea van die kerksaal, en jy kyk heerlik na die vertonings van flieks van toeka tot nou.
As jy lus is om te kom braai, dan kom braai jy, en as jy net ’n piek-niekmandjie wil pak, dan maak jy so.
Sommige mense het opgedaag met slaapsakke en sponsmatrasse en van die insit sommer ’n “inlê” gemaak.
Maar almal het heerlik saamgekuier tot laatnag en die vertoning terdeë geniet.
Daar sal voortaan een maal ’n maand op ’n Vrydagaand om 20:00 ’n gratis insit-vertoning gehou word.
Die groot voordeel van die insit is dat jy nie soos met ’n gewone bioskoop moet meeding om die sitplek te kry wat jy wil hê nie. Nee, hier besluit jy sélf waar jy sit, hetsy alleen in die stilte om die film te geniet, of saam met vriende en lekker lag soos die afgelope vertoning duidelik was.



