AS die wêreld vinnig nat raak, dan raak die rooi kleigrondpaaie rondom Hofmeyr ook baie nat. Maar nat is niks, dis die glad wat erg is. En as jy nou nie wil glip en gly tot by die kerk op ’n Sondag nie, dan maak jy ’n plan.
Só het Hennie Vermaak van die plaas Rietfontein ook Sondag ’n plan gemaak. Hy wou by die kerk kom, maar na 30 mm reën in die Vlekpoort Area, en die rivier wat vol water loop, was hy glad nie lus om kruie-kruie en glip en gly in te ry tot by die kerk nie. Toe maak hy ’n plan.
Kort voor lank het hy, tot groot verbasing van die ander kerkgangers, by die kerk geland in sy mikroligte driewielvliegtuigie.
Die grondstraatjies van vroeër jare is immers nou teerstraatjies, en hy kon ’n lekker gladde sagte landing hê op hierdie landingstroke waar daar maar selde verkeer is, en parkeerruimte voor die kerksaal is meer as ruim genoeg.
Van die kerkgangers het met verbasing vertel dat hul nog kan onthou hoe mense met perdekarretjies en ossewaens nagmaal toe gekom het, en dit was vir hul ’n openbaring dat daar nou ook kerk toe gevlieg kan word.



