HERACLITUS, ’n Griekse filosoof, het eenmaal gesê: “Die enigste konstante is verandering”.
Nooit was hierdie woorde meer van toepassing as by die Hoërskool Cradock nie. In ’n era van verandering, waar alles vinniger, makliker en “slimmer” gedoen word, is die Hoërskool Cradock steeds ’n standvastige instansie van uitnemendheid, waar die jeug van Cradock en die omliggende omgewing onderrig en gevorm word tot selfstandige individue.
Van akademiese uitnemendheid tot toppresteerders op kulturele en sportgebied, is Hoërskool Cradock en sy leerders geen vreemdeling wanneer dit kom by puik prestasies nie. As ’n klein Karoo-skool is CHS be-kend vir die oordadige trots waarmee sy leerders deelneem, leerders wat nie vir een oomblik terugstaan vir kompetisie van groter stadskole nie.
In die afgelope jaar het hierdie plattelandse skooltjie weer toppresteerders in verskeie sportsoorte opgelewer.
Sportprestasies
Op die hokkieveld het Nicola Koegelenberg, graad 8-leerder, haarself bewys as een van die bestes in die Oos-Kaap toe sy ingesluit is in die o.14 Oos-Kaap-span wat tydens Julie aan ’n interprovinsiale toernooi in Bloemfontein deelgeneem het.
Die netbalmeisies wys ook hul slag op die netbalbaan met drie spelers wat in verskeie provinsiale spanne opgeneem word. Chamrine Booysen (17) en Houghlynne Swarts (18) is in die o.17- en o.18 Oos-Kaap-spanne opge-neem, terwyl Ilana Steenkamp in die o.18 Griekwa-span ingesluit is.
Delaré Schoeman het die keurders se aandag getrek met sy puik rugbyspel en is inge-sluit in die o.18 OP-rugbyspan. Anika Marais het ook gewys waarom sy een van die land se bestes is met haar insluiting in die o.18 SA-tennisspan.
Kultuur
Op die kultuurfront het Cradock ook ’n goeie jaar ervaar. Die ATKV-vasvraspan het deelgeneem aan Die Burger en ATKV se jaarlikse Vlymskerp-vasvrakompetisie en ondanks streng kompetisie van die groot stadskole, het die Kwaggas gewys dat hulle waardige opponente is en het weggestap met die wennerstrofee.
Ook die dinamiese dramadiere van CHS het vanjaar weer uitstekend presteer. Tydens die jaarlikse ATKV-tienertoneelspelkompetisie het die dramadepartement van CHS ’n nuutgeskrewe toneelstuk genaamd Vlieg opgevoer voor ’n stampvol gehoor by die Universiteit van Johannesburg. Hierdie klein geselskap van slegs 11 leerders het ’n allemintige 19 toekennings ingepalm, wat onder meer silwer- en bronstoekennings vir die tegniese versorging van die verhoogstuk insluit. Hierdie aspek van drama is die laaste paar jaar noukeurig ontwikkel met leerders wat ge-reeld ook die geleentheid kry om die klank, beligting en verhoogbestuur van verskeie CHS-funksies te behartig.
Ook in skryfkuns presteer die Kwaggas fantasties. Vir die sesde agtereenvolgende jaar is CHS-leerders in dieselfde geselskap as vooraanstaande skole van regoor die land vereer deurdat een van CHS se leerders vanjaar die trotse tradisie voorgesit het om ’n skryfstuk in die Poort te publiseer. Shané de Waal, matrikulant van CHS, se gedig Dieselfde Kam is in die poësie-afdeling opgeneem.
Marissa du Plessis (gr. 12, 2017) se skryfstuk is ook vanjaar gepubliseer.
Twaalf skaakspelers is opgeneem in die Chris Hani-span wat later vanjaar tydens die Suid-Afrikaanse junior skaakbyeenkoms deelneem, terwyl twee gr. 10-leerders gekies is om deel te neem aan die nasionale landsdienskamp – ’n eer wat nie sommer enige leerder toekom nie. Twee matrikulante het in dieselfde aktiwiteit ook groot eer behaal toe hulle ná jare se volgehoue diens beloon is met die gesogte Springboktoekenning. Hulle is Shané de Waal en Dirkie Cronjé.
’n Skool om mee rekening te hou
In ’n era waar die miskonsepsie van “Groter is altyd beter” bestaan, staan Cradock kop en skouers uit bo ander skole. Hoogs gekwalifi-seerde personeel, wat elk passievol is oor sy/haar vakgebied, onderrig leerders om die beste moontlike uitslae te lewer. Hoewel akademie altyd die prioriteit bly, besef die bestuur en personeel van die Hoërskool Cradock al te goed dat die leerders sosiale wesens is en word daar dus ook genoeg tyd ingeruim om te speel, ontspan en vriendskappe te smee.
As dubbelmedium-skool bied CHS die ge-leentheid aan leerders om in Afrikaans en Engels onderrig te word, iets wat hulle tot hul voordeel strek deurdat alle termonologie en beginsels in huistaal, sowel as ’n tweede taal aangebied word.
Klasse is ten volle geïntegreer en leerders word in ’n veilige omgewing, naby hul ouerhuis, ondersteun en gemotiveer om in ’n vin-nig veranderende wêreld hul identiteit te vind en meer te leer oor ander ras- en geloofsgroepe.
Oud-skoliere sal vinnig getuig dat die keuses en geleenthede wat hierdie “eenvoudige” skool aan hulle gebied het, nie vergelyk kan word nie. CHS bied nie net ’n wye verskeidenheid sportsoorte aan waarin leerders puik afrigting ontvang met behulp van oud-provinsiale en -nasionale sportspelers nie, maar ook op die akademiese gebied kan leerders kies en keur tussen 18 vakkeuses, om sy/haar eie belangstellings en toekomstige beroepe te pas.
D
ie beste keuse vir ’n suksesvolle toekoms
Dekade oue tradisies word steeds vandag beoefen in die gange en op die terrein van Cradock en tesame met die gebruik van gevorderde tegnologie in die klaskamers, bied CHS ’n gebalanseerde omgewing vir elke leerder waarin hy/sy tot hul volle potensiaal kan ont-wikkel.
Die Hoërskool Cradock bied aan elke jongmens die geleentheid om top gehalte onderwys, gekombineer met kwalilteit sportafrigting en buitemuurse aktiwiteite in die rustig-heid van die platteland te geniet.
Langs die oewer van die Visrivier en met die pragtige Karoo-landskap in sy agterplaas, is die Hoërskool Cradock loshande die beste keuse vir ’n suksesvolle toekoms!




