DIE wintervakansie is tradisioneel die tyd van interprovinsiale en nasionale sporttoernooie wat landwyd in ’n verskeidenheid van sportsoorte plaasvind.
Die Hoërskool Cradock se leerders is jaarliks goed verteenwoordig by hierdie toernooie, en vanjaar was geen uitsondering nie. Sewe van die skool se leerders was betrokke by rugby-, hokkie-, netbal- en tennistoernooie.
Ruaan Fourie, Raymond Tom en Liyema Bobelo was ingesluit in die o.19 OP Platteland-rugbyspan wat aan ’n nasionale toernooi op Reitz in die Vrystaat plaasgevind het. Tien spanne was vanaf 21 tot 26 Junie betrokke by die hierdie jaarlikse toernooi vir plattelandspanne wat vanjaar vir die 22ste keer plaasgevind het. Die afrigter van CHS se eerste rugbyspan, Dru Nass, was ook die afrigter van die OP Plattelandspan.
Die spelers het besonder goed presteer en Raymond Tom het die eer te beurt geval om ingesluit te word in ’n sewes-span wat ná afsluiting van die toernooi gekies is, en later vanjaar in Dubai gaan deelneem. Raymond Tom het ook ’n gedeeltelike beurs by die Sharks Rugby-akademie losgespeel.
Die All Ages-netbaltoernooi het vanaf 17 tot 21 Junie in Boksburg plaasgevind. Twee leerders van Cradock is gekies om OP-spanne tydens hierdie toernooi te verteenwoordig. Lenay Booysen het die o.18-span gehaal en Angela Nqabisa was ingesluit in die o.16-span.
Zanel Philps was ingesluit in die Oostelike Provinsie se o.14A-hokkiespan wat aan ’n interprovinsiale toernooi in Bloemfontein deelgeneem het. Hierdie span het besonder goed gevaar en was die wenners van die toernooi. Nicola Koegelenberg was gekies as nie-reisende reserwe van die OP o.16A-hokkiespan wat aan die nasionale toernooi in Pietermaritzburg deelgeneem het.
Nicola het ook besonder goed presteer op tennisgebied.
Sy het die Oostelike Provinsie o.16-span in ’n interdistrikte toernooi op George verteenwoordig. Die span het baie goed vertoon en die tweede plek behaal. Nicola het uitstekende tennis gespeel en vyf van haar ses wedstryde gewen.




