MET die wintersportseisoen agter die rug is atlete van Hoërskool Cradock oorgehaal om aan die nuwe seisoen se buitemuurse aktiwiteite uit te blink.
Muurbalspelers sowel as die skaak- en krieketspelers het reeds aan wedstryde deelgeneem en hul merk gemaak.
MUURBAL
Die muurbalspan het in twee wedstryde gespeel – een teen Hangklip en die ander teen Middelburg. In albei kragmetings het die span goed vertoon.
Hulle het ook goed gelyk in hulle spoggerige nuwe muurbalklere wat goedgunstelik geborg is deur Adami Caltex en Karoobrew.
SKAAK
Sewe skaakspelers van CHS het aan die Chris Hani geslote skaak- toernooi in Graaff-Reinet deelge-neem.
Die doel van hierdie toernooi was om die beste skaakspelers in die Chris Hani-distrik te identifiseer om die distrik by die SA Junior-skaakkampioenskap te verteenwoordig. Dié kampioenskap word vroeg Januarie 2020 in Johannesburg gehou.
Vier van CHS se skaakspelers is vir dié span gekies. Hulle is Ruan Rieck, Lutha Majiba, Mene Solule en Mandiluve Poswa.
KRIEKET
Die o.15-krieketspan het hul seisoen op ’n besonder hoë noot begin met ’n puik oorwinning oor Queens College se o.15-span. Die wedstryd is beslis oor 20 boulbeurte per span. Queens het die loot gewen en besluit om eerste te kolf. Hulle was gou-gou in die moeilikheid met hulle telling op 15 vir die verlies van twee paal-tjies. Alhowel hulle mooi herstel het, kon hulle nooit werklik die akkurate boulwerk van CHS baasraak nie. Queens het hul toegelate 20 boulbeurte afgesluit op ’n telling van 100/5.
Die tuisspan se twee aanvangs-kolwers, Neil Slabbert en Reevan Block, het uitstekend gekolf en CHS het die telling in die vyftiende boulbeurt verbygesteek sonder om ’n paaltjie te verloor. Reevan Block het 21 (nun) aangeteken, en Neil Slabbert ’n puik 57 (nun) van 51 balle af. CHS het die wedstryd met 10 paal-tjies gewen, en Neil is as die speler van die wedstryd aangewys.



