Hanlé Venter, Elsie Strydom, Bernard en Erica Costerus. Foto:VERSKAF


DIE eerste skooldag bly ’n uitdaging, maar Helpende Hand se nasionale skooltassie-projek maak ’n verskil in die lewens van honderde graad 1’s dwarsdeur die land wat nie hul eie tas-sies skool toe kan bring nie.

Verteenwoordigers van Helpende Hand se plaaslike tak het vanjaar ’n draai by Cradock Voorbereidende skool gemaak om van die tassies, met alles wat ’n graad 1 benodig, aan van die kinders te oorhandig.

Die Skooltassieprojek, wat in 2007 van stapel gestuur is, is ’n nasionale projek waardeur 32 000 tassies reeds by skole landwyd aan graad1’s geskenk is. Ander projekte sluit die kosblikkie – en #HelpHetta-projekte in waardeur kinders gehelp word.

“Nagenoeg 80% van ons tyd en bronne word aan die voorkoming van armoede bestee en die ander 20% aan die verligting van armoede,” het Bernard Costerus van Cradock Helpende hand gesê.

Die organisasie het ook ’n projek vir bejaardes wat ’n einde wil maak aan die eensaamheid en armoede waarin baie van die land se bejaardes leef. Helpende Hand het meer as 170 takke landwyd wat die nood in hul gemeenskappe aanspreek.

Belangstellendes kan Cradock Helpende Hand kontak deur vir Bernard te skakel by 081 317 7442.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article