DRIE aangrensende skole van die Newtown-woonbuurt op Fort Beaufort het die nuwe skoolkwartaal begin met heinings wat gedurende die vakansie gestroop is.
Die skole se heinings word op ’n gereelde grondslag weggedra. Skoolhoofde van die Hoërskool Newtown, St Joseph’s (R.K) Primêr, sowel as Newton Junior Sekondêre Skool, het hul frustrasie met dié toedrag van sake uitgespreek.
Die hoofde, sowel as ouers, is dit eens dat ’n sindikaat in die woonbuurt bedrywig is. Hulle neem vermoedelik bestellings by inwoners, dra die skole se heinings snags weg en rig dit dan op teen betaling.
“Selfs ons ouers het nie meer ’n trots in ons skole nie. Hulle weet die booswigte stroop die skole se drade en verkoop dit aan hulle, maar nogtans beskerm hulle die skuldiges se identiteit,” het ’n ontstoke Craig Fester, prinsipaal van Newton Junior Sekondêr aan Mid-Karoo Express gesê.
Die drie skole is reg langs die nasionale pad wat Fort Beaufort met Komani (Queenstown) verbind, geleë.
Luidens Fester moes hy nou ouer leerlinge opdrag gee om tydens pouses die deel van die skoolterrein direk langs die hoofpad te patrolleer om te verhoed dat die jonger leerlinge in of naby die pad gaan speel.
Fester en sy skoolbeheerraad het die afgelope paar jaar al groot bedrae geld uit die skool se instandhoudingsfonds aan nuwe omheining bestee. “Ek volg reeds verskeie leidrade op en dis net ’n kwessie van tyd voor ons in samewerking met die polisie dié booswigte gaan laat les opsê,” het Fester gesê.




