Petro Bouwer in haar kombuisie. Foto:DEONETTE HAGGARD


’n INWONER van die ACVV-dienssentrum op Somerset-Oos, Petro Bouwer, het besluit om te help met die vernuwing wat tans by dié dienssentrum aan die gang is.

Sy huur tans die klein kombuisie by die dienssentrum. Hier lewe sy nou weer haar passie uit om kos te maak en te “bak en brou” na hartelus. Haar kombuisie is maar pas drie weke aan die gang en sy verskaf reeds middagetes aan 12 mense.

Bouwer was maar altyd bekend vir die heerlike eetgoed wat sy gemaak het. Sy was vir baie jare in banke op die dorp werksaam, maar het steeds probeer om haar passie, naamlik bak, uit te leef.

Met die koms van haar tweede kind het sy besluit om by die huis te bly en voltyds bakwerk van haar huis af te doen. Dit het sy vir ongeveer 35 jaar lank gedoen voordat sy gesondheidsprobleme begin ontwikkel het.

Kort ná haar man se dood het sy ’n woonstel by die dienssentrum betrek. Hier het sy weer haar staal met kosmaak gewys en die groot kombuis van die dienssentrum behartig en so middagetes aan die inwoners in en om die sentrum verskaf.

“Dis vir my baie lekker om te sien hoe die mense my kos geniet. Dit maak my warm om die hart om te weet ek beteken vir hulle iets,” sê Bouwer.

Helené Botha, bestuurder van die ACVV-dienssentrum, het bygevoeg, “Ons is Petro baie dank en waardering verskuldig vir haar bydrae. Vandat sy terug is by ons, het dit die gees van almal in die sentrum weer ’n hupstoot gegee. Vir hulle gaan dit tóg oor die gesellige samesyn om ’n tafel met ’n heerlike bord boerekos.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article