’n VERGADERING om die dorp se haglike water- en elektrisiteitsprobleme te bespreek, is verlede Vrydag in die sysaal van die stadsaal gehou.
Alhoewel die vergadering ná baie kort kennisgewing plaasgevind het, was belangstelling groot en moes ekstra stoele ingedra word.
Geen afgevaardigdes van Chris Hani-distriksmunisipaliteit (CHDM) was teenwoordig nie, maar Inxuba Yethemba-munisipaliteit was deur waarnemende munisipale bestuurder Alan Alschlager en speaker Maria Nortjé verteenwoordig. Die burgemeester en munisipale bestuurder moes glo dringend Johannesburg toe.
Sprekers het nie op hulle laat wag nie en stories van mense in Hillside, Bergsig en groot dele van die dorp wat tussen sewe en 17 dae sonder krag was, fabriekeienaars en sakemanne in die industriële gebied wie se werkers met gevoude hande sit omdat hulle masjiene nie kon loop nie, vrieskaste vol kos wat sleg geword het, die derduisende rande wat sakemanne aan brandstof moes bestee om kragopwekkers te laat loop, was op almal se lippe.
Geen doekies is omgedraai toe die sogenaamde onbekwaamheid van IYM se raadslede bespreek is nie.
“Ons is moeg vir leë beloftes,” is oor en oor gehoor. Sprekers was ook ontsteld oor sekere skole, wat weens ’n gebrek aan water moes sluit en mammas onbetaalde verlof moes neem om na kinders om te sien.
Sprekers het op insae in die munisipale elektrisiëns se opleidingsertifikate aangedring terwyl belastingbetalers wou weet wat die munisipaliteit se ware finansiële posisie is.
Lou Venter, wat die vergadering gereël het, het gewaarsku dat die munisipaliteit se dade tot groter werkloosheid sal lei aangesien kleiner besighede verplig sal wees om toe te maak.
Alan Alschlager, in antwoord op vrae, het erken dat Cradock se elektriese stelsel oud is en dat geen herstelwerk in die afgelope 25 jaar gedoen is nie.
Hy het sy kommer uitgespreek oor ’n sogenaamde “Derde Mag” wat hul werk saboteer aangesien kettings in twee gevalle oor elektriese drade gegooi is om kortsluitings te veroorsaak. Die Speaker kon nie antwoorde aan die vergadering gee nie en het uitstel gevra.


