GROOTFONTEIN Landboukollege se rugbyspan het op Saterdag, 8 Junie tydens ’n tuiswedstryd by Middelburg teen Jansenville meegeding.
Die studente het Jansenville met 22–10 geklop. Punte vir Grootfontein is aangeteken deur ’n drie wat deur Christo ‘Stretch’ Goosen gedruk is, terwyl Henco ‘Tiny’ Nel ’n driekuns behaal het deur drie drieë te druk!
Rico ‘Rover’ van der Mescht se skopvoet het die res van die punte gelewer met twee doelskoppe pale toe.
Die spelers werk tans ernstig aan fiksheid en tegniek en berei hulself voor vir die Pannar Landboukolleges Rugbyweek wat van 22 tot 28 Junie by Glen Landboukollege buite Bloemfontein gaan plaasvind. Grootfontein se span wat tydens die rugbyweek gaan deelneem gaan binnekort aangekondig word.




