CRADOCK se Groot Visrivier Kanomarathon wat verlede jaar as gevolg van COVID–19 nie kon plaasvind nie, is vanjaar uitgestel tot 8 en 9 Oktober. Inskrywing vir hierdie groot geleentheid het reeds aan die begin van Augustus oopgemaak.
Die Suid Afrikaanse K–2 kampioenskappe word by die geleentheid beslis en inskrywings van die land se beste roeiers sowel as buitelandse deelnemers word verwag.
Daar is ook die K–1 en lywige K–3 afdelings om voor in te skryf.
Die marathon sal op Vrydag, 8 Oktober in die Grassridgedam, ongeveer 84 km vanaf Cradock wegspring op die eerste skof van 48 kilometer tot by Knutsfordbrug.
Hierdie skof is bekend vir sy stroomversnellings, keerwalle laagwater bruggies en die bekende Keiths Flyover waar menige roeiers al hul bote gebreek of spane verloor het.
Saterdagoggend, 9 Oktober spring die roeiers weer vanaf Knutsford weg vir die finale skof tot by Cradock.
Hierdie skof word gekenmerk deur die Cradock keerwal 5km bokant die eindpunt by Cradock se sportgronde.
Die gewilde Groot Visrivier Kanomarathon het in 1982 ’n skamele begin gehad toe slegs 77 deelnemers en 52 bote opgedaag het vir die wedvaart.
Oor die bykans veertig jaar van sy bestaan, het die Vis, wat as een van die opwindendste in Suid-Afrika en die buiteland beskou word, al tot eenduisend deelnemers per marathon gelok. – WILNA DE KLERK

