Chris Kearns (links) en Gideon Jordaan (albei 12) het die 10km aangedurf. Foto:VERSKAF


NÁ n maand se beplanning en werk agter die skerms by die Pink Trees for Pauline-pretdraf, het die dag uiteindelik aangebreek en het die pretdrawwers van Somerset-Oos gewys wat in hulle steek.

Volgens Maryke Schoonbee, een van die organiseerders, het hulle op sowat 100 deelnemers gereken, maar was oorstelp om 166 deelnemers in te skryf. Sy lê ook klem op die feit dat die geleentheid as ’n gesinsuitstappie ge- sien word en dat baie kinders van die Laerskool Gill die dag meegemaak het.

Die oggendluggie het ’n byt gehad en ligte mis het oor Bosberg gehang, maar die drawwers het die dag met geesdrif gepak. Dertig deelnemers het die 10km voltooi. Hulle het reeds om 09:00 vanaf die gholfklubhuis vertrek en al met die bergpad tot by die kruis en terug tot by die klubhuis gehardloop. Altesaam 136 deelnemers het die 5km aangedurf en hulle het om 09:15 vertrek.

Die twee waterpunte is beman deur ywerige ondersteuners van die ge-leentheid – Manual Ellis en sy span van die St. Theresa’s Primêre Skool, asook Lelani en Tania Weyers.

Teen 11:00 is die prysuitdeling in die gholfklubhuis gehou. Tersia Marsh het agtergrondmusiek verskaf en ’n gesellige atmosfeer het geheers. Soos gewoonlik was die gemeenskap se hande oop en was daar kontant borge, goeie pryse en meters wors vir die worsrolletjies, asook kolwyntjies met pienk kankerstrikkies en geluks-trekkings.

Die geleentheid was ’n reuse sukses en al die spanne het goed saamgewerk om dit ’n onvergeetlike dag te maak. Volgens die organiseerders word daar beplan om vanaf September, elke eerste Saterdag van die maand op ’n kleiner skaal so ’n pretdraf te hou – alles ten bate van Pink Trees for Pauline se kankerpasiënte.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article