SATERDAGMIDDAG net voor sononder het groot opgewondenheid by die Verdeeldam, links van die N9, net buite Middelburg oppad na Noupoort geheers, toe die reënwater stadig maar seker oor die sementwal begin stoot het.
Vroeër die middag is inligting vanaf Niel Muller ontvang dat sy grondwal na ’n skielike donderstorm waartydens daar 50mm reën binne ’n kwartier geval het, ongelukkig gebreek het.
Niel Muller het in Desembermaand tydens die groot veldbrande in Middelburg se distrik, ook etlike hektare veld in die berg as gevolg van die brand verloor en was die breek van die damwal ’n groot teleurstelling.
As gevolg van hierdie massas water, asook die donderstorm wat in Middelburg en distrik uitgesak het, het die donker modderwater vanaf Muller se plaas bo in die berge stadig maar seker in die rigting van die Verdeeldam by Grootfontein Landboukollege beweeg.
Die Verdeeldam het sy naam gekry vanweë die feit dat sy water tussen die Seligmandam en Myldam op Grootfontein Landboukollege verdeel word. Vir Middelburgers is hierdie nie ’n alledaagse gesig nie en is daar gehaas na die Verdeeldam met die hoop dat die oorloop van die wal nog voor sononder aanskou sou kon word.
Nadat die sluise na die Seligmandam oopgemaak is, is daar in spanning gewag vir die Verdeeldam om te styg totdat hy uiteindelik kon oorloop. Teleurgesteld was die toeskouers verseker nie en was daar groot toejuiging toe die watervlak onderdeur die N9 se brug baie vinnig gestyg het.
Met verskeie kronkels en draaie het die water verder gestroom na die Myldam agter die koppie by die Ou Pomphuis op Grootfontein is.



