TERWYL die wêreld steier onder die vrees en chaos wat deur die koronavirus (COVID-19) veroorsaak word, bring ’n kykie op die Spaanse Griep van 1918 ’n heel ander perspektief.
Dié pandemie het sowat ’n derde van die totale wêreldbevolking geïnfekteer en uiteindelik het ’n steierende 50 miljoen mense daaraan beswyk. Dit was die dodelikste pandemie in moderne geskiedenis.
Komani-Karoo Express het in een van die keldervertrekke van die Reinethuis Museum op Graaff-Reinet gaan inloer, waar ’n uitstalling is oor dié Spaanse Griep van 1918.
Teen die einde van 1917 is die Graaff-Reinetse hospitaalraad deur die regering beveel om voorsiening te maak vir die akkommodasie en behandeling van militêre pasiënte uit Oos-Afrika wat met malaria gediagnoseer is.
Hierop het die hospitaalraad ’n groot markiestent te lene gekry en houtvloere laat lê om dit vir pasiënte gerieflik te maak.
Die Eerste Wêreldoorlog het skaars tot ’n einde gekom toe die hospitaalraad gekonfronteer is met die grootste toets van hul fasiliteite ooit.
Op 5 Oktober 1918 was daar nog geen gevalle van Spaanse Griep aangemeld nie, maar slegs ses dae later op 11 Oktober, het daar reeds byna 10 mense aan dié siekte beswyk. Teen 14 Oktober is 20 sterfgevalle aangeteken en openbare kennisgewings is aangebring waarin inwoners deur burgemeester H. Urquhart ingelig is dat alle publieke vergaderings, “bijeenkomste” en vermaaklikhede “geskors worde vir die teenwoordige”.
“Uitstel is noodlottig” en “Hou Vlieë af van Pasiënte en Kos” verskyn in groot letters op die kennisgewing.
Die situasie is vererger nadat al drie die dorpsdokters gelyktydig siek geword het. Dr JS Enslin het toegewyd aangehou om na sy pasiënte om te sien totdat hyself op 19 Oktober beswyk het.
Vier noodhospitale is inderhaas opgerig: “Pooles” in die botaniese opsigter se woning, die stadsaal, die Spes Bona Skool en Brink se skool in Stockenstroomstraat.
Teen 21 Oktober 1918 is byna 2 000 gevalle van Spaanse Griep aangemeld, met ’n sterftesyfer van 153. Vroeg in November het die dodetal op 370 te staan gekom, en op 3 November het die kerkklokke vir die eerste keer in twee weke weer gelui.
Teen die einde van November het die pandemie hom uitgewoed en was die finale sterftesyfer vir die distrik sowat 850 pasiënte, oftewel 45.81 uit elke 1 000 mense.
Van die 111 lidmate van die Nederduits Gereformeerde Kerk wat tussen 12 Oktober en 30 November 1918 oorlede is, was slegs ses sterfgevalle nie aan die Spaanse Griep verwant nie. Onder die griepslagoffers was Martha Johanna Weitsz (24) en “haar Kindjie” van een dag oud – die jongste onder die sterfgevalle. Die oudste lidmaat wat in dié tyd aan die Groot Griep beswyk het, was die 64-jarige Alida Calitz, terwyl die gemiddelde ouderdom van die oorledenes ’n bloedjong 30 jaar en 4 maande was.
Op ’n geraamde dokument van die NG Kerk waarin die sterfgevalle van gemeentelede gelys is, verskyn dié trooswoorde: “Ik ben de opstanding en het leven; die in Mijn gelooft, zal leven, al ware hij ook gestorven.”
TERUGBLIK:


