CLINTON V du Plessis, die Cradocker wat sê hy skryf so nou en dan, maar is eintlik ’n boekhouer, se Nederlandse versamelbundel, Het vyfde Evangelie van Micky word amptelik op 15 Desember in Amsterdam bekendgestel.
Hy het vertel dat hy nie die gedigte vir die bundel gekies het nie, maar dat dit almal deur die vertaler self uit sy bundels Rangeer, Woorde Roes in Water en Aantekeninge teen die Skemeraand gekies is.
Hy is nog nie self seker of hy die bekendstelling in Amsterdam gaan bywoon nie.
“Die redigering vind tans plaas en na die bekendstelling, sal ek die verspreiding plaaslik self hanteer,” het hy gesê.
Die nuwe bundel is nie Du Plessis se eerste kennismaking met die Nederlandse taal nie, aangesien van sy werke, naamlik Honded Dichter 1, De Tweede Rondte en O Droewe en Wye Wêreld voorheen in Nederlandse bloemlesings gepubliseer is.
Daar het al tien Afrikaanse en een Engelse digbundels, asook twee kortverhaalbundels uit Du Plessis se pen verskyn.
Hy skryf ook gereeld koerantrubrieke. Sy werke is wyd bekend en verskeie is al in plaaslike en oorsese bloemlesings opgeneem. Hy tree ook gereeld by feeste in Suid-Afrika en soms in Nederland op, om van sy werke voor te lees.
Du Plessis het op 6 Augustus vanjaar LitNet se skryfkompetisie met sy gedig “Ma, Imagine net”, gewen.


