Foto ter illustrasie. Foto: Verskaf


Wat moontlik een van die grootste boere-dae nog in Cradock-distrik sal wees, word vandag op die plaas Zuurfontein gehou.

Die organiseerders wat die baie interessante program saamgestel het, is Pieter en Dawie du Plessis, Zeis Jordaan en Hardy van Heerden.

Hulle verwag ten minste 150 boere wat ook besoekers van so ver as Colesberg, Noupoort, Tarkastad, Somerset-Oos, Graaff- Reinet en Hofmeyr sal insluit.

Van die land se bekendste sprekers op landbougebied gaan verskeie belangrike onderwerpe onder die loep plaas.

Megaboere, boedel en ramme

Prof Johan Willemse van Bloemfontein, skrywer van landbou-gerigte onderwerpe oor markvooruitsigte in Die Landbouweekblad, sal die volhoubaarheid van vleis- en veselboerdery in die Karoo bespreek.

Hy sal ook oor megaboere, en hoe om ’n boedel op die mees sinvolle manier onder drie erfgename te verdeel, behandel.

Die groot vraag oor wanneer dit weer gaan reën, is ook op die agenda. Johan van den Berg, weerkundige, van Bloemfontein, sal probeer om hier ’n antwoord te verskaf met sy praatjie oor klimaat en klimaatsverandering.

Nog ’n spreker, Leon du Plessis, voorheen ’n bekende BKB veldbeampte op Cradock, sal die kwessie van of ’n ram gekoop of self geteel moet word, aanraak.

Zeis Jordaan sal weer “spaar jouself bankrot” bespreek.

Die verrigtinge begin om 08:30 met registrasie en ’n geleentheid om van Zeis Jordaan se puik Dohne Merino’s te besigtig. Daar sal ramme, ooie en lammers te sien wees en agente sal teenwoordig wees om die vee met boere te bespreek.

Daar sal ook ’n uitstalling van splinternuwe motors en trekkers wees.

Die dag word rondom 13:00 afgesluit met ’n boere-braai.

Alles word gratis voorsien.

Daar sal ten strengste aan alle COVID-19-regulasies voldoen word.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article