DIE redding van landbou in Suid-Afrika lê in die vestiging van vertrouensverhoudinge.
Dit is die slotsom waartoe gekom is by die tweede Bridge Building Agricultural Land Summit, wat van 20 tot 21 Mei in Middelburg in die Karoo gehou is.
Die tema van die beraad was “Die bemagtiging van die volgende generasie boere vir volhoubare sukses”, en die hoofdoel was om kommersiële boere, landboustudente en –dosente met mekaar in aanraking te bring.
In ’n pas uitgereikte persverklaring oor die beraad word die driedubbele dilemma wat landbou in die gesig staar, opgesom: eerstens benodig SA ’n praktiese en ekonomies verantwoordbare oplossing vir grondeienaarskap wat tegelyk ook redelik en regverdig is.
In die tweede plek kan die landbousektor nie bekostig om kosbare kennis en vaar-dighede tydens die transformasieproses te verloor nie, en derdens moet landproduktiwiteit toeneem ten einde tred te hou met aanvraag en voedselsekuriteit.
Hoewel daar ’n toenemende aantal landboustudente jaarliks in Suid-Afrika afstudeer, krimp die poel van ervare kommersiële boere teen ’n rampspoedige tempo, en is daar ’n dringende behoefte aan ’n ruimte vir studente om hul teoretiese kennis te kan toepas en versoen met die praktiese kennis en ervaring van die huidige generasie boere.
Oor die grootste enkele hindernis wat die pad versper na ’n inklusiewe en produktiewe landbousektor, was afgevaardigdes by die beraad dit eens: ’n gebrek aan wedersydse vertroue. Negatiewe ervaringe uit die verlede is verantwoordelik vir die kloof tussen wit en swart, en die gevolglike gebrek aan vertroue belemmer samewerking.
Die beraad het egter wel bevind dat gemeenskaplike grond wel gevind kan word wanneer individue dieselfde Christelike waardes deel en saamstem oor die belangrikheid van:
- Die intrinsieke waarde en die waardig-heid van elke mens.
- Nie-partydigheid, nie-rassisme en vryheid van keuse.
- Vreedsaamheid en die kosbaarheid van lewe.
- Diensbaarheid, persoonlike verantwoordelikheid, regverdigheid en rentmeesterskap.
Afgevaardigdes kon tydens die beraad luister na praktiese gevalle waar daar reeds sukses behaal is, soos dié van Wessel Bibbey, ’n boer van Frankfort wat drie studente aan huis geneem het, en Stefan Erasmus van Middelburg, wat reeds verskeie studente vir kort internskappe geneem het.
Nokubonga Ndima, koördineerder van Future Farmers, was optimisties oor die brûe wat geleentheid soos dié beraad kan bou, en het na afloop van die beraad gesê, “Die toe-koms van landbou in Suid-Afrika is blink!”
Ook Themba Cebani, prinsipaal by Grootfontein Landboukollege, was beïndruk, en het agterna aan die organiseerders geskryf, “Hierdie was vir my ’n openbaring, en ek hoop om in die toekoms meer met u te skakel oor hierdie sake.”
Die organiseerder van die Middelburg-beraad, Dave Turner, is opgewonde oor die potensiaal van hierdie mentorskap wat op ge-loofsgesentreerde waardes rus, “Die terug-voer tot sover is só positief, en niemand van ons sal werklik weet wat die langtermyngevolge in die lewens van hierdie studente sal wees nie.”
Jan Oosthuizen, fasiliteerder van ’n dinkskrum tydens die brugbouberaad, glo dat slegs die versterking van die verhoudings-ketting wit en swart bymekaar kan bring om saam te werk, te groei en te bou.
“Sonder ’n sterk verhoudingsketting sal die proses ineenstort met die eerste korreksie, misverstand of verwagting wat nie materialiseer nie. Landbou is in werklikheid ’n verhoudingsfeer.”
