“VANJAAR staan die sonneblomme weer hoog soos altyd, die eerste boontjies is al daar en die wortels, artisjokke en spinasie lyk goed. Die druiwe korrel al, die tamaties blom, die pers boontjies rank en die uie staan in saad.”
Só beskryf Karen McEwan haar groentetuin wat die afgelope na-week weer besoekers van heinde en verre na die Fairfield Plaasmark gelok het.
Dit was die derde Fairfield Plaasmark en vanjaar was die mark deel van die groter Middelburg Stop, Stay & Play Destination-naweek. Besoekers kon weglê aan Fairfield se spesiale grondboontjiebotterkaaskoek en ’n groot verskeidenheid Karoolam en wildsvleispro-dukte en dit afsluk met van Schoombee se welbekende granaatsap.
Knoop-en-doop T-hemde deur Karen Southey en haar dogters was gewild. Wild Honey (van die Baai) en Gina-Lynn (van Cradock) het vir die musiek gesorg.
“Die boeregasvryheid en plattelandse gees, lekker musiek, kos en saamkuier is presies wat besoekers elke jaar kom soek,” sê Karen.
Sy bied gereeld kursusse in organiese groentetuinverbouing aan sowel as kosdemonstrasies. Besoekers aan Fairfield Plaasmark is dit eens dat dié mark ’n mens weer herinner aan die waarde van ’n stadiger lewe en die goedheid van grond en ’n groentetuin.




