’n BEJAARDE egpaar van Bedford beleef die afgelope ses maande slapelose nagte en loutere hel ná die raaiselagtige dood van hul grootmaak-kleinseun aan die einde van verlede jaar.
Enrico Arends (20), seun van die 39-jarige Isha Arends, het bykans sedert geboorte by sy ouma, Fransien Arends (57), en Andrew Arends (60) gewoon.
“Ons het hom soos ons eie kind grootgemaak en het soveel drome vir hom gehad,” het ’n bedroefde Fransien gesê.
Mid-Karoo Express het die familie onlangs besoek om hul hartseerverhaal te deel. Luidens oupa Andrew is Enrico verlede jaar op die laaste dag van November laat Vrydagmiddag by die huis met vriende weg. Hy het daardie aand nooit huis toe gekom nie.
“Die polisie het die volgende oggend by die huis opgedaag en ons meegedeel dat Enrico se liggaam in ’n veld naby die woonbuurt gevind is. Hy is met ’n mes gesteek. Ons was platgeslaan,” het Andrew gesê.
Enrico was ten tye van sy dood ’n eerstejaarstudent aan die polisiekollege in Bhisho. Volgens die Arendse wou hy graag eendag sy gemeenskap dien.
Andrew het aan Mid-Karoo Express vertel dat hy later gehoor het dat Enrico met vier mans in ’n stryery betrokke was. Luidens sy vriende was hy een oomblik nog saam met hulle in ’n taverne en die volgende oomblik was hy net weg. Tot vandag toe is niemand nog in verband met Enrico se dood aangekeer nie.
Luidens Andrew ondersoek die skerpioene die saak en wil dit voorkom asof hulle binnekort ’n deurbraak gaan maak.
“Iemand daarbuite het iets gesien en ons sal eers vrede in ons harte kry die dag as die waarheid openbaar word,” het Andrew gesê.
Voorts blyk dit ook dat Enrico nie op die plek gesteek is waar sy liggaam gevind is nie.
“By die plek waar hy gevind is was daar geen bloed en ook geen aanduiding dat daar enigsins ’n stoeiery was nie,” het Andrew gesê.


