Kleurvolle serpe en mussies hang oor ‘n heining…vat gerus vir jou een, dis gratis!
Op Woensdag, 6 Julie was die temperatuur laag – die perfekte dag vir die groot serp-oorhandiging in Cradock. Nie alleen was dit die koudste dag van die jaar nie, maar dit was ook die dag waarop maatskaplike toelaes uitbetaal was en
minderbevoorregte, ouer mense na die dorp gestroom het om hul geldjie te kom
haal.
Cradock se serpprojek was gister geloots en daar was groot opgewondenheid en dankaarheid
toe pensioenarisse langs die roete wat hulle dorp toe gebruik, elk ‘n lekker
warm serp kon afhaal om te dra.
Die projek was deur ‘n paar vroue
van dié dorp begin wat iets vir hul medemens wou doen. Aanvanklik sou die vroue op ‘n
Saterdagmiddag bymekaar kom vir ‘n koffie en saam sit en serpe brei vir dié wat nie het nie. Maar die COVID-19-pandemie het ‘n stokkie daarvor gesteek en uiteindelik het elkeen maar by sy
eie huis gebrei.
‘n Versoek vir bydraes op sosiale media het ‘n hele paar serpe
ingebring, maar daar was ‘n paar vasbyters wat lang stukke gebrei het. Een van dié vroue, wat nie haar naam genoem wil
hê nie, is ‘n 84-jarige pensioenaris wat op haar eie 110 serpe – elk 1.4 meter lank – gebrei het.
Sy was baie verbaas om te hoor dat as sy al haar serpe bymekaar sou sit, dit meer as 1.5km lank sou wees. “Ag, dis geen prestasie,” het
sy gesê, “ek doen dit net vir terapie vir die oudword-proses.”
Daar is uiteindelik 192 serpe en ‘n paar gebreide musse bymekaar gemaak, wat gister op drie plekke teen huise se tralies op die pad dorp toe gehang
is. Mense kon hulle self help en kies
watter een hulle wil hê.
“Dit was baie lekker om dit te doen en mense
te sien wat opgewonde is oor ‘n geskenk en so lekker warm kry wanneer hulle die
serp aansit,” het een van die vroue wat serpe gehekel het, agterna gesê.

